ToekomsVenster: God roep ook vir my en jou


ek-en-jy

Foto: Pixabay.com

Lees: 2 Korintiërs 4:7

Hoekom sou ons dan nou anders wees as ons voorgangers? Die meeste van hulle het haastig-haastig ʼn verskoning uitgedink wanneer die Here hulle roep. Nou ja, daar is seker meer as genoeg tekorte wat ons sou diskwalifiseer en van ons ook die mees onwaarskynlike kandidate sou maak! Maar dis die punt: God doesn’t call the able, He enables those He calls. En so ontvang Hy al die eer! Maar daar is twee fokusse in hierdie vers … nie net dat ons kleipotte is nie, maar ook dat ons binne ons ʼn skat het. Ek is daarvan oortuig dat, indien ons verstaan waaroor die “skat” gaan, ons veel minder bekommerd sal wees oor die “houer” (kleipot) waarin dit is! Die skat is dat ons verlig is met die kennis van die heerlikheid van God wat van Jesus Christus uitstraal.

Nou, wanneer sy (heerlike) lig inbreek, ingespreek word in ons duister chaotiese lewens, word ons verlig, verdryf dit al ons skuld, stukkendheid en elke stukkie duisternis. En, ons intieme ken en ervaar hiervan is ʼn skat, dié skat wat ons in ons dra. ʼn Skat…? Want elkeen wat hierdie skat ontdek en ervaar, word heerlik verlig en heel gemaak, kragtig bevry en opgerig in ʼn nuwe lewe van lig! So, kyk gerus verby jou maklik-breek kleipot-wees en sien die heerlike lig in jou raak! Hierdie is so ʼn heerlike skat, ons kan amper nie nie ʼn passie hê dat elke ander mens ook hierdie skat sal hê, hierdie verligting sal beleef nie!

Raak prakties

Maak ʼn lysie van alles wat tekort is aan jou, alles wat jou sou kon diskwalifiseer om apostel en getuie te wees. Raak stil en raak intens bewus van die grootsheid van sy verligting van jou lewe, hoe jou duister, chaotiese lewe oorspoel is deur sy liefde, geregtigheid en almag, hoe dit jou vry en heelgemaak het. Sien, wanneer ons fokus op ons kleipot-wees, keer ons in onsself, maar wanneer ons fokus op Sy heerlikheid in ons, dan keer ons na buite… begeer ons dat elke ander mens dit ook sal ken, intiem sal ken!

Gebed

Here, dat U my lewe verlig het, is alles-oorweldigend, alles-bepalend. ʼn Skat in my! Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.