ToekomsVenster: God roep sondaars tot bekering

(Foto: @karim_manjra/Unsplash.)

Joh. 8:21-22;28-30 – Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?”

28 – Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.

Jesus kondig sy vertrek van hierdie wêreld af aan. Die omstanders sukkel om die kloutjie by die oor te bring en wonder wat sy woorde en aankondiging tog kan beteken. Hy is effens gefrustreerd met die onwilligheid en blindheid van sy volksgenote. Ten spyte van sy optrede onder hulle, die wonderdade wat hy gedoen het, sy lering aangaande die dinge van die Koninkryk, bly hulle steeds in gebreke om te verstaan waaroor sy bediening gaan.

Jesus ruk mense tot die werklikheid as Hy verklaar dat hulle in hul sonde sal sterwe. Die genesing vir hul geestelike ongesteldheid staan in hul midde. As hulle nie glo dat Hy is wie Hy sê Hy is nie, meer nog, wat die Vader van Hom sê nie bly hulle in sonde en verlorenheid.

Die interessante benaming “Ek is wat Ek is” kom weer hier voor. Daarmee word Jesus se Godheid ondubbelsinnig aangedui. Die aankondiging en bevestiging dat Hy, Jesus die groot Ek is op aarde verteenwoordig maak Hom nie aanstellerig en arrogant nie. Die intieme Goddelike, wellisware onverstaanbare verhouding binne die drie eenheid, kom ook hier na vore.

Saam met Jesus se aankondiging van sy immanente vertrek word ook die koms van die Heilige Gees as teenwoordige Trooster en Advokaat aangekondig.

Die misterieuse verhouding binne die drie eenheid is onverklaarbaar wonderlik.

Vader, Seun en Heilige Gees is so een dat daar geen sprake is van verdeeldheid en trots nie. Die verhouding word deur nederigheid gekenmerk. Jesus doen soos die Vader Hom sê om te doen. Die Heilige Gees herinner aan alles wat die Seun gedoen en gesê het.

Vader en Seun stuur die Heilige Gees. Die Heilige Gees en Jesus pleit vir die gelowiges. Die Vader en die Gees skep die ganse werklikheid maar op so ʼn manier dat niks sonder Jesus gebeur nie. Tog is die drie een en nie drie nie. Tog is die een drie en nie een nie.

Onverstaanbaar en onweerstaanbaar wonderlik. Dis die God wat ons dien. Ewige, getrou, liefdevol en genadig. Dit is nie sy wil dat iemand in sy sonde sterf nie. Daar is redding, genade, bevryding en vryspraak. Omarm die Groot Ek is vandag.

Dit is waarom Hy na die wêreld gekom het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.