ToekomsVenster: God sal sorg

(Foto: Pixabay)

Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. – Psalms 73:16-17

Soos reeds aangedui kuier ons vir ʼn paar dae by die “totdat” tekste in die Bybel. Daar is ʼn hele 163 tekste in beide ou en nuwe Testament wat die woordjie “totdat” in een of ander konteks gebruik.

Dikwels kom dit voor binne die konteks wat iets wat eers moet gebeur of ʼn tydsverloop wat eers moet verbygaan voordat die saak waaroor die teks handel, ʼn werklikheid kan word. Ons leef immers almal in ʼn “totdat” wêreld. Bitter min dinge in die lewe val sommer saam met die oomblik dat jy die begeerte na iets ervaar.

So is dit ook in die Bybel veral met betrekking tot die goed wat tussen God se mense en Homself afspeel.

Alles is so deurmekaar en ons vrae sommer baie vrae, sommige gerig aan God, aan die owerheid, aan die wetenskaplikes, aan onsself en die antwoord het dikwels met “totdat” te doen.

Dit is immers ʼn teken van volwassenheid om met hierdie spanning saam te leef, die betekende saak en die tydsverloop wat eers moet plaasvind.

Dit help nie ons gooi ons speelgoed uit die bababedjie nie. Ons moet eerder vra wat is nodig sodat ons hierdie “totdat” periode met integriteit, grasie en vertroue kan verby sien.

Die digter in Ps. 73 verwoord tipiese vrae in die gemoed van gelowiges. Hy kyk na die wêreld om hom en oënskynlik sukkel goddelose mense nie met die uitdagings wat hom te beurt val nie. Trouens, hy voel die lewe maak glad nie sin nie.

Hy eer God, maar elke dag bring meer en meer sorge. Die onverskillige mense se trots hang om hulle nek soos ʼn string krale maar met hulle gaan dit goed.

Psalms 73:13-14 – Dat ek die kwaad vermy het en met ‘n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf.

Uiteraard is dit nie altyd waar nie. Covid-19 byvoorbeeld diskrimineer of bevoordeel niemand en niks nie. Mense van alle stande en kontekste ly onder dié virus.

Mens sou seker kon redeneer dat as gelowige daar darem ʼn ander stel reëls in plek moet wees wanneer dit oor die uitdagings van die lewe kom. Na alles, waarom glo jy dan as dieselfde lot jou  toeval as wat ongelowige en selfs onversetlike mense tref.

Nadat hy sy klag voor God gelê het bevind hy hom in die Tempel. Daar ervaar Hy God se teenwoordigheid. Skielik weet hy dat daar ʼn dimensie van vrede, vreugde en vervulling is wat goddelose mense nooit kan ervaar tensy hulle tot inkeer kom nie.

Ja, selfs al is sy omstandighede nie ideaal nie, het hy vrede. God sal sorg.

“Soos ʼn redelose mens het ek my voor U gedra” bely hy. “U het nog altyd gesorg en dit sal nooit verander nie”.

Moenie opstandig wees nie. Gaan op jou knieë en beleef God se genesende teenwoordigheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.