ToekomsVenster: God se bedoeling met vrae

kruis-in-oos-vrystaat-deur-jb

Foto: Juanita Badenhorst.

Hiermee sluit ons ons reeks rondom die vrae wat God vra af. Ek vertrou dat dit vir jou net soveel beteken het as vir my.

Mag ek saamvat? Ons is so gewoond om aan God vrae te stel, meer dikwels wanneer die lewe ongemaklik begin skuur aan ons. Min van ons vra waarom dit so goed gaan met ons, waarom die Here ons so oorvloedig seën en waarom ons die genade bewys is om in Hom te glo te midde van ʼn wêreld wat in ʼn staat van ongeloof verkeer. Ek dink nie ek is verkeerd as ek beweer dat die meeste van ons hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit mag uiteraard nie en ons kan gerus onthou om die Here te loof en te dank vir sy oorvloedige genade en guns.

Wanneer ons onsekerheid en ontsteltenis beleef onthou ons dat God daar is en begin ons Hom peper met allerlei vrae. Waar is U, waarom het dit toegelaat, waarom gryp U nie in nie? Waarom moet ek so swaarkry en so kan ons voortgaan. Dis eg menslik en die Here verwyt ons nie daarvoor nie. Die gedagte dat die Here aan ons vrae stel  is nie omdat Hy nie weet nie, natuurlik nie. Dit is omdat Hy daardeur bevestig dat ons verhouding relasioneel en kommunikatief van aard is. Geen verhouding kan sonder kommunikasie, gesprek en interaksie plaasvind nie. Huwelike waarin daar nie met mekaar dieper as die oppervlak gesels word nie loop die gevaar om te kwyn. Dis eweneens waar van ons verhouding met die Here. Daarbenewens nooi die Here ons uit tot gesprek met Hom omdat Hy ons waardig ag. Ons is beelddraers en as sodanig waardevol. Die Here bevestig ons as geloofwaardige en betekenisvolle gespreksgenote. In die derde plek het die Here deur die vrae wat Hy ons vra transformasie in gedagte. Die vrae wat Hy vra neem ons op ʼn ontdekkingstog. Al worstelende verstaan ons meer en meer van sy bedoeling met ons en met die lewe, leer ons Hom beter ken as die Gids van ons lewens en groei ons in vertroue op Hom.

Moenie die vrae wat God vra gering skat nie. Dis baie betekenisvol.

By watter vraag moes jy stilstaan in hierdie reis saam met mekaar en hoe het jy gevorder in jou verstaan van God se plan vir jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.