ToekomsVenster: God se beloftes is anders

(Foto: Nick Fewings/Unsplash.)

Miga 4:1-2 – Daar kom ‘n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ‘n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.”

As jy saam met my blaai deur die profeet Miga val dit jou op hoedat die donkerste donker deur ʼn ligstraal soos uit die hemel verdryf word. Beloftes van mense beteken relatief min. Ons weet immers van watse stoffasie ons gemaak is.

God se beloftes is anders, heeltemal anders. Hy is getrou en ʼn Waarmaker daarvan.

Beloftes hou ʼn mens aan die gang. Die moeilikste omdstandighede kan deur ʼn betekenisvolle belofte verduur word. Beloftes is soos ʼn reddingsboei wat na jou uitgegooi word. Dit is iets om aan vas te hou. Dit beteken dat die son weer gaan opkom, dat jou omstandighede nie die finale woord spreek nie. Dit is soos ʼn nuwe dag, die eerste strale van die opkomende son is op die horison merkbaar. Dis die wonderlike reëlmaat van die geskape werklikheid, nie waar nie? Dit was van die begin af so.

“Ek sal deur hierdie donker moet kom,” sê jy vir jouself. Daar is nie ʼn kortpad nie. Ek sal moet verduur, ongeag hoe lank die donker gaan aanhou.

Daar is ʼn belofte: Alle donker word met lig opgevolg. Dit is onafwendbaar.

Donker spreek nie die laaste woord nie, nooit nie, tensy jy besluit om die donker jou woning te maak. Donker en lig is aardsvyande. Die lig oorwin elke keer. Dit mag pas donker geword het in jou lewe.

Byt vas. God het jou nie vergeet nie. Dit mag middernag wees en die slaap bly jou ontwyk. Jy is halfpad. Moenie nou opgee nie. Dit raak vyf uur in die môre en jy verbeel jou nie, die voëltjies sing. Hulle kondig die nuwe dag aan.

God se beloftes gedy.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.