ToekomsVenster: God se beloftes is oorvloedig en geloofwaardig

(Foto: Tamara Menzi/Unsplash)

“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” – Psalms 50:15

Die Woord van die Here is ryk aan beloftes.

Die beloftes van mense stel dikwels teleur. Omstandighede verander sodat die persoon sy beloftes nie meer kan gestand doen nie. Skouerophalend stap hy daarvan af weg, terwyl jy bedroë toekyk.

Mense se beloftes word somtyds in die emosie van die oomblik gemaak. As die stres verminder, reken hulle dat die belofte nie meer nodig is nie. Die beloftes van mense gaan dikwels mank aan geloofwaardigheid, integriteit en dissipline. Dit word gou gemaak en gou gebreek.

God se beloftes is nie net oorvloedig nie, maar totaal en al geloofwaardig. “Niemand wat sy vertroue in die Here stel word teleurgestel nie” leer die Woord van die Here ons. (Psalm 34)

Sy beloftes is “ja en amen”. Hy staan self in vir die geloofwaardigheid daarvan. (2 Korintiërs 1:20)

Gelowiges eien hulself die beloftes van God se Woord toe, sonder om die konteks waarbinne dit uitgespreek is in ag te neem. Daar mag voorwaardes aan verbonde wees, voorwaardes soos geloof, gehoorsaamheid, eerlikheid en volharding. Dit mag ʼn belofte wees wat aan ʼn spesifieke persoon gemaak is en duidelik nie vir iemand anders bedoel is nie.

Daar is vele moontlikhede en Christene moet beloftes met verantwoordelikheid en piëteit benader.

Jy kan nie lukraak gryp wat jou pas sonder om die hele konteks in ag te neem nie. Jy kan die Here nie verwyt dat Hy nie sy beloftes gestand doen as jy nie met respek daarmee omgaan nie.

Ek sou wou voorstel dat jy jou verstaan van die belofte toets aan die Woord as geheel. Deel dit met ander gelowiges wat jy vertrou en hoor wat hulle daaroor te sê het. Vra die Here om weer en weer te bevestig, amper soos ʼn Gideon wat seker gemaak het dat hy inderdaad van die Here gehoor het.

Dit alles moet jou nie ontmoedig om die Here onder alle omstandighede te vertrou nie. Hy is ʼn barmhartige God, ʼn goeie en genadige God.

Hy nooi jou uit: “Roep my aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uithelp”.

Halleluja.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.