ToekomsVenster: God se beloftes

(Foto: Delfi de la Rua/Unsplash.)

Jes. 58:11 – Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.

Die beloftes van die Here is onweerstaanbaar, aangrypend en wonderlik. Ek weet nie wie het getel nie maar populêr word mos gesê dat daar ʼn belofte is vir elke dag van die jaar. Mens leef nie met die beloftes saam soos met ʼn geluksdosie nie. Jy kry mos daardie beloftekaartjies wat so netjies in ʼn houertjie verpak is. Elke dag kan ʼn mens een uithaal en jou instem om van daaruit te lewe.

Sommige mense hoor ek sit dit selfs in hul skoene en sê dan dat hulle op die Woord staan. Nou ja dit is seker maar net ʼn manier om te sê dat hulle die waarheid van daardie belofte omhels en van daaruit lewe.

Die Bybel sê dat elke belofte deur God onderskryf word as die waarheid. Dit kan ook nie ander nie omdat die Here in alle opsigte die verpersoonliking van waarheid en integriteit is,

Dit is uiteraard belangrik om ook beloftes nie los van konteks te interpreteer nie. Die Woord gebeur nie in ʼn lugleegte nie en ʼn mens moet ʼn nuuskierigheid aanleer om na die konteks te vra en dit in ag te neem.

Die konteks onderskryf die waarheid van die belofte en los van die omstandighede waarbinne daardie belofte gegee is, staan die belofte op losse grond. Daarmee wil en nie vir ʼn enkele oomblik die waarde van die sg. beloftes in God se Woord, minder maak nie. Mag dit steeds ʼn bron van inspirasie bly.

Hierdie belofte getuig van die swaartye in ʼn mens se lewe. Die volk van die Here het baie sulke tye beleef meermale vanweë hul eie onverskillige en slordige manier van lewe. Tog is die Here so getrou en nooi Hy sy kinders altyd weer terug na ʼn verhouding met Hom.

Die hoofstuk begin met ʼn opdrag aan die profeet om die volk op hul oortredinge te wys. Die volk is vermetel genoeg om hul skuld te ontken, die Here die skuldige party te maak. Vas- en feesdae loop op gevegte en ongeregtigheid uit.

Bekering word egter in die vooruitsig gestel met wonderlike beloftes daaraan verbonde.

Die beloftes het ʼn duidelike voorwaarde voordat dit toegeëien en ervaar kan word. “As jy” lui telkemale die voorwaardes in.

Die belofte is dus voorwaardelik en moet ook so in ons lewens geïntegreer word. Ons kan die belofte nie soos ʼn “suikerklontjie” behandel nie. Die belofte is duursaam en word deur twee partye gekenmerk.

Gee jy genoeg aandag aan die “as” gedeeltes voordat jy die beloftes as waar vir jou lewe neem?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.