ToekomsVenster: God se mense is mense wat omgee


omgee-broer-suster-kinders

Foto: Unsplash/Pixabay.com

“Hulle vra: ‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?’ Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê: net dat ’n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ’n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít ’n vasdag, ’n dag waarvan die Here hou? Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” – Jesaja 58:3-7

Dis moeilik om die oproep tot barmhartigheid te “oorbeklemtoon”. ’n Mens moet eintlik baie aspris wees om dit mis te lees.

Daar is meer as 1,500 verse in die Bybel oor armoede en geregtigheid. Wanneer die skrifgeleerde vra na die samevatting van die wet en die profete (hulle hele Bybel in daai tyd) sê Jesus liefde vir ons naaste is gelyk aan liefde vir God. In Lukas 10 vertel hy die verhaal van die barmhartige Samaritaan om te verduidelik wat die samevatting van die wet prakties beteken.

Moet ons dan net altyd uitreik na die armes en die weerloses, vra ’n ou nou die dag. Nee, antwoord ek, maar ek dink die mees desperate mense in die samelewing, die mees weerloses, die in die grootste nood, moet die eerste prioriteit wees vir ’n kerk wat bely dat hy geroep is om God se lig in hierdie wêreld te laat skyn.

Gedagte

“Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” – Romeine 13:8

Gebed

Here, bewaar my daarvan om so geestelik te wees dat ek vergeet hoe prakties liefde eintlik is. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.