ToekomsVenster: God se omgekeerde ekonomie op sy beste

onderstebo

Foto: Clément Gerbaud/Unsplash.com

Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? – Jak. 2:5

Dis God se omgekeerde ekonomie op sy beste. Behoort Hy nie die invloedrykes, vername en helde van die samelewing te kies om sy saak te bevorder nie? Hoe werk Hy so agterstevoor?

Ja, die Here werk radikaal anders as wat ons sou voorstel. Hier en daar is daar wel ʼn persoon wat by die gemeenskap aansien geniet en wat vanuit sy Christelike oortuiging ʼn wonderlike getuienis lewer. Ons het baie meer sulke rolmodelle nodig. Die wêreld het talle rolmodelle wat ʼn debatteerbare lewensbeskouing voortlewe. Wanneer ʼn mens iemand sien wat die hoogste sport bereik het en die eer aan God gee bemoedig dit ʼn mens oneindig. Dit dien ook as ʼn uitnemende voorbeeld vir veral ons jongmense.

Die Here het dit egter nie nodig nie. Hy rus almal wat in afhanklikheid van Hom lewe toe om vir Hom te getuig.

Die dissipels was ʼn eenvoudige klomp mense, nie bekwaam genoeg om dit in die binnekring van die rabbi’s te maak nie. Die outjies wat gemiddeld was het vakmanne geword. Die dissipels was gewone mense en nêrens in aanvraag nie. Trouens, die Joodse raad is baie verbaas as Petrus en Johannes met soveel vrymoedigheid getuig van Jesus se lewe en bediening. Hulle word as die onaansienlike vissermanne herken van wie daar duidelik niks noemenswaardig verwag is nie. Tog kies die Here hulle uit.

Die geslagsregister van Jesus sluit onder andere ʼn prostituut en moordenaar in. Die Bybel word deur twyfelaars en kleingelowiges geskryf. Die Woord getuig van gewone mense se worsteling om van die lewe sin te maak. Ja, daar was konings, priesters en profete, rykes en vername. Daar was egter ook die onaansienlikes, gebrokenes en hulle wat sukkel.

Wat wysheid is by die wêreld in dwaasheid by God en wat krag is by die wêreld is swakheid by God. So beskaam God die trotses.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.