ToekomsVenster: God se reddingsboei aan ons

(Foto: Canna Curious Club/Unsplash)

En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. – Galasiërs 4:3-5

Een van die meer ontstellende berigte in die nuus – nie dat ons dit nie geweet het nie – is die buitensporige reddingsboei wat die regering aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) oor ʼn tydperk toegeken het. Ek vermoed dit is in die omgewing van R49 miljard, en dit is maar een van die instansies met die hulp van reddingsboeie aan die gang gehou moet word.

Eskom is uiteraard ʼn ander sprekende voorbeeld en ons weet hoe dit met die energieverskaffer gaan.

Reddingsboeie wat baie geld kos.

God maak ook met groot respek gesê van ʼn reddingsboei gebruik om die hele wêreld uit hul skuld te kry. Die reddingsboei is egter eenmalig. Die omvang daarvan is genoegsaam vir elke situasie en nood. Dit hoef nie aangevul of herhaal te word nie. Wie van daardie reddingsboei gebruik maak, word vir altyd gevrywaar van verdere skuld.

Die reddingsboei is onbekostigbaar duur. Die prys kan nie in reële terme bereken word nie.

Dit is Goddelik van aard. Sy Naam is Jesus. In God se almag en wysheid het Hy besluit dat sou mense op watter wyse ook al daarvoor moes vergoed, niemand daarvoor sou kwalifiseer nie. Die skuld is te groot en daar is geen manier waarop mense sou kon betaal nie. Derhalwe het God besluit om dit gratis en verniet aan te bied.

Hy dwing dit egter op niemand af nie. Hy bied dit aan, sonder enige voorwaardes, geen spesifieke kwalifikasie word vooraf gevra nie. Net skuld en nogmaals skuld kwalifiseer jou vir die uitkoms.

Ondenkbaar maar waar.

Die interessante is dat sommige die affêre met agterdog bejeën. Iets wat so onvoorwaardelik en oorvloedig gegee word, veral in ʼn wêreld waar niks verniet is nie, word wantrou. Daar moet ʼn kinkel in die kabel iewers wees. Daar moet ʼn vangplek wees maar intellektuele mense laat hulle nie met ʼn  slap riem vang nie. Ander redeneer dat hulle skuld nie so groot kan wees nie. In vergelyking met ander is dit eintlik beskeie en gering. Hulle verstaan nie dat by God daar nie klein en groot skuld is nie.

Almal is skuldig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Trots, hoogmoed en agterdog weerhou sommige van die genade wat so ryklik uitgedeel word. Vir die wat gered is, is die reddingsboei – die Evangelie, Christus Jesus ons Here, die Seun van die lewende God – die geur van die lewe tot die lewe. Vir ander, hoe ondenkbaar, onverstaanbaar en onwaarskynlik ook al, ʼn doodsreuk.

Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit ‘n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek. – 2 Korintiërs 2:15-16

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.