ToekomsVenster: God se regverdige uitspraak

(Foto: Davide Cantelli/Unsplash)

Miga 2:7-8 –  Volk van Jakob, moet daar gevra word: “Is die Gees van die Here kwaad? Doen Hy sulke dinge?” Belowe Ek nie goeie dinge vir dié wat opreg lewe nie? Israel, behoort julle so te praat? Sal die Here geduld hê met sulke gedrag? As julle doen wat reg is, sal my uitsprake vir julle aanvaarbaar wees. Maar nou is my eie mense vyandig en opstandig.

Teenoor die ontrou van die volk van die Here word die beloftes van God in herinnering geroep. Die Nuwe Lewende Vertaling help ons om die teks beter te verstaan. Die Here is aan die woord. Hy is direk en op die man af met sy vrae wabt Israel word in die beskuldigde bank geplaas.

Wat verwag hulle van die heilige God? Moet Hy die sonde sondermeer oorsien? Dink hulle dit raak Hom nie en dat Hy net ʼn blinde oog moet draai?

Uiteraard kan dit nie gebeur nie. Immers tussen Israel en die Here is daar ʼn ooreenkoms in plek. Die ooreenkoms se terme is baie duidelik:

  • Hy, die Here, sal sorg en versorg.
  • Hy sal sy beloftes in hul lewens waarmaak.
  • Hy sal hulle die goeie in oorvloed laat geniet.
  • Hy sal hulle oorwinning gee oor hul vyande. Hy sal sy engele opdrag gee aangaande hulle.
  • Hy sal Homself aan hulle openbaar en hulle sal sy liefde ervaar.

Maar, dit is net een kant van die muntstuk. Israel, Noord- en Suidryk, die verbondsvolk van die Here, die einste mense vir wie Hy uit Egipte gaan haal het, dwarsdeur die woestyn bewaar het en die beloofde land vir hulle oopgemaak het, kan nie traak my nie agtig teenoor Hom optree nie.

In terme van die ooreenkoms is hulle Hom eerbied, gehoorsaamheid, bedagsaamheid en lojaliteit verskuldig. Sy eer is op die spel. Sy Naam word bespotlik gemaak onder die volkere wêreld indien sy kinders hulle soos heidene gedra en dit is presies wat tans aan die gebeur is.

Die optrede van sy kinders is skreiend en aanmatigend. Moet Hy terugstaan en daaraan niks doen nie en daaroor niks sê nie? Dit kan uiteraard nie. Sy heiligheid verhoed sulke arrogansie. God beloof goeie dinge maar dan is daar ʼn voorwaarde. Die ontvangers van Sy guns moet geloofwaardig lewe.

Ons verwag baie van God en dit mag, maar as God ons aan sy regmatige verwagting herinner, is ons somtyds onredelik.

Ons kan Hom so gou verwyt as dinge nie gaan soos ons dit wil nie, maar die vraag is, waar staan ons in ons verhouding met Hom? Hy is na alles God van hemel en aarde.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

My God voor U staan ons skuldig…dankie Here Jesus my Redder en Verlosser

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.