ToekomsVenster: God se stem in die natuur


flamingos-natuurskoon

Foto: Mihajov/Pixabay.com

Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee. – Handelinge 2:19

’n Hele paar maal in die Ou Testament maak van die geloofsreuse ’n klein venstertjie oop op hierdie gewigtige onderwerp. In 1 Konings 19 beskryf Elia hoedat God se stem in die fluistering van ’n windstilte na hom toe gekom het. In 2 Samuel 5:24 hoor Dawid en sy manskappe God in die geritsel van die melkbosse voor hulle uitgaan. In ons post modernistiese samelewing kan ons maklik dink dat hierdie Ou Testamentiese gelowiges dalk bygelowig of liggelowig was, of dat hulle dalk op ’n manier die natuur aanbid en God daarin gelees het. Het jy al daaraan gedink dat hulle dalk só naby God gewandel het dat hulle in staat was om Hom ook in die natuurelemente te hoor praat?

Ons weet almal dat God almagtig is en dat die natuur aan Hom onderdanig is. Terwyl Jesus op aarde was, het Hy baie keer die natuurkragte en -wette aangespreek en elke keer was hulle aan Hom gehoorsaam. Hy kon storms stilmaak, kos vermeerder, siekes genees en selfs die dood moes voor Sy stem vlug. Hierdie wonders is tog duidelike tekens en bewyse dat Hy in beheer van die natuur is. As ons dít weet, waarom vind ons dit moeilik om te glo dat God ook in ons tyd die natuurkragte kan inspan om met óns te praat?

As mens die oordele van God in Openbaring bestudeer, kom jy agter dat Hy ook die natuur inspan om Sy oordeel oor sonde aan te kondig. Katastrofale droogtes, vloede, modderstortings, tsunami’s en aardbewings kan wel deur kenners verklaar word, maar bly terselfdertyd steeds openbaringswyses van God se almag en een van die maniere waarop die Heilige Gees mense waarsku om na God toe terug te draai. Ook in ons tyd sal ons steeds daarby baat as ons toelaat dat die natuur ons heenwys na ons Skepper.

As mens in ag neem dat ek en jy in vergelyking met hierdie aarde nie veel meer as ’n stippeltjie is nie, dat die aarde in vergelyking met die sterrestelsel waarbinne ons geplaas is nie veel meer as ’n stippeltjie is nie, dat ons sterrestelsel binne die heelal nie veel groter as ’n stippeltjie is nie, dan besef jy hoe klein ons eintlik is. Wie is ons om te dink dat God nie die natuur kan gebruik om met ons te praat nie? Hy kan verseker as Hy wil!

Toewydingsoomblik
Is jy bereid om weer die eenvoud van die Bybelse geloofshelde se geloof te herontdek? Of het al die inligting, akademiese kennis en toerusting wat jy gehad het, jou doof gemaak vir die Heilige Gees se stem in die natuur?

Gebed
Heilige Gees, maak my sensitief vir U stem in die natuur. Help my dat ek U sal hoor, wanneer U die natuur gebruik om met my te praat. Amen.

Praktyk
Stel jouself oop vir die stem van die Heilige Gees. Jy gaan Hom dalk net hoor praat volgende keer wanneer jy stil staan by ’n asembenemende sonsondergang; wanneer die lug tril van ’n maanhaar se brul; wanneer die wind sag oor jou wang vee of branders voor jou in- en uitrol! Moenie die Heilige Gees beperk nie. Hy kan baie meer doen as wat jy ooit sou kon dink. Hy dra jou op die hart en wil graag met jou praat!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Babs Brouwer ·

ToekomsVenster: God se stem in die natuur…Pragtig gesê! Ek sien uit na meer.

Alta ·

Ek sien uit na meer. Toevallig dit raak gelees. Weet sommer dis met n doel

Lewies ·

As U tyd kry, skakel gerus in op die erediens wat more oggend om 9 uur uit die Gereformeerde Kerk Centurion uitgesaai gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.