ToekomsVenster: God se verteenwoordiger

(Foto: @karim_manjra/Unsplash.)

“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.” – Genesis 1:27

“Die Here het my mooi gemaak, Hy het my baie, baie mooi gemaak.” Dit is sonder twyfel waar, maar wat van Jesus het jou, hulle, julle, die ander ook mooi gemaak. Prinsipieel en essensieel mooi, God verteenwoordigend in hierdie wêreld.

Ons het gewoonlik nie baie probleme met die eerste stelling nie, maar met die tweede begin allerlei ander dinge ʼn rol speel.

In Suid-Afrika is vooroordeel en vrese nie teoreties nie. Ons ken mekaar sleg en pogings om dit wel te doen word deur onbeholpe en slegte ervarings gesmoor.

Ons is geneig om te veralgemeen, reguit strepe te trek, te kategoriseer. As een so is, is almal so. Ons sukkel om te erken dat selfs in ons deurmekaar land daar merkwaardige mense is, verteenwoordigend van alle bevolkingsgroepe. Ons beleef hartlikheid, vriendelikheid en hulpvaardigheid om elke hoek en draai. Ons geniet die diversiteit van ons interessante samelewing totdat daar iets gebeur wat dreig om ons van balans te wil afgooi.

Dinge is so vervleg in Suid-Afrika. In die vervlegdheid loop politiek en die ongemak wat daarmee gepaard gaan soos ʼn rooi draad ingeweef. Dit het die vermoë om die manier waarop ons na die werklikheid kyk erg te beïnvloed.

Baie mense voel moeg en moedeloos. Baie sukkel om fisies-materieel, finansieel maar ook sosiaal en geestelik kop bo water te hou. Ons is ʼn gemeenskap waarin woede net onder die oppervlak skuil. Ons leef inderdaad op die rant van ʼn samelewing wat dreig om te kantel.

Die energiekrisis wat reeds jare met ons is, is daarvan ʼn skitterende voorbeeld. Dit ontwrig bykans elke samelewingsverband.

Mense is geïrriteerd en nie sonder rede nie. Dit voel ook asof die wat iets aan die toedrag van sake kan doen nie die wil, kapasiteit of integriteit het om die broodnodige verskil te maak nie. Iewers is almal nie meer ewe mooi nie. Iewers is ek, my groep, my belang, my verstaan verteenwoordigend van mooi.

Die ander; daarvoor vind ek woorde om my afkeur te verwoord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here deur U oe wil ek kyk na die stukkende wereld want U het ons mooi gemaak….help my om U RAAK TE SIEN wanneer ek om my kyk …..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.