ToekomsVenster: God se Woord is immergroen

(Foto: Ben White/Unsplash)

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. – 2 Petrus 2:20-21

Wat het die koerant en die Bybel met mekaar te doen? Alles. Die Bybel is eintlik ʼn geïnspireerde koerant wat oor eeue sy beslag gekry het. Ons het al sydelings daarna verwys. Koerante, metafoor vir die media in al sy velerlei gestaltes, is uiteraard nie geïnspireerd soos die Woord van God nie.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. – 2 Tim 3:16-17

In die Bybel lees ons doodgewoon hoe mense, manne en vroue, sin gemaak het van hul geloof en vertroue in God. Soos met ons, het alles nie altyd uitgewerk soos hulle verwag het nie. Hoe hulle met hul geloofsworsteling en vertwyfeling omgegaan het, word dikwels met brute eerlikheid beskryf. Die Bybel is seker die eerlikste boek wat ooit die lig gesien het.

Toegegee, die tydsgewrig waarin die Bybel sy ontstaan gehad het nie is nie met dieselfde uitdagings gekonfronteer as waarmee  ons in ons dag mee worstel nie.

Die wêreld het uiters kompleks geword en van die eenvoud van ʼn bykans landelike bestaan het ons lankal afgesien. Ons wêreld word deur dagboeke en afsnydatums gekenmerk. Ons waarde word gemeet in terme van die produksie wat ons lewer. Ons het statistieke geword wat deel van die massa vorm.

Tog bly die beginsels van God se Woord immergroen en van toepassing. Die vernaamste daarvan is die liefde as rigsnoer vir die lewe. Wie met die liefde as lewens kompas loop is alreeds buitengewoon toegerus vir die uitdagings van ʼn  post-moderne wêreld.

Die bekende gedeelte in 1 Kor. 13 is oral bekend. Opmerklik is dat dit wat die liefde nie is nie, natuurlike wys by ons voorkom. Agterdog, vooroordeel, woede, terugbetaal, liefdeloosheid en selfsug.

Daarteenoor die dinge wat die liefde wel is, is verdraagsaamheid, omgee, sagtheid, deernis, mededeelsaamheid, onselfsugtigheid – en daarmee sukkel ons. Liefhê soos God liefgehad het soos die liefdesgebod ons leer is buite ons bereik tensy die Heilige Gees van ons besit neem, ons harde harte verwyder en vir ons sagte harte gee.

Bome word aan hul vrugte geken – die wyse waarop ons teenoor ander optree basuin uit waar ons sekerheid lê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Liefdeloosheid…..die grootste siekte in vandag se tyd…hoe bitter tragies…..Here wees ons genadig..Amen