ToekomsVenster: God sorg vir jou

(Foto: David Köhler/Unsplash.)

Jes. 27:2-3 – Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd; Ek, die Here, sorg daarvoor: Ek lei dit gereeld nat, dag en nag staan Ek wag daarby sodat niemand dit kan beskadig nie.

Ons het al by ʼn vorige geleentheid verwys na Jesus se gebruik van simbole en metafore. Israel, die verbondsvolk, word meermale in die Bybel met ʼn wingerd vergelyk. Een van die aangrypende verwysings na Israel as ʼn wingerd vind ons in waar die eienaar of landbouer, uiteraard God self, hartseer vertel van al die voorbereidings wat Hy getref het sodat sy wingerd produktief kan wees en oorvloedige vrug dra.

Die wingerd self is van adellike afkoms, met die genetika van die wingerd skort niks nie. Die grond is goed voorberei en die akker word versorg en natgelei. Daar is selfs reëlings getref dat mense met verkeerde gesindhede en ander motiewe nie die wingerd beskadig en verniel nie.

Tog, te midde van al die voorbereidings wat getref is, dra die wingerd geen vrug nie.

Die Landbouer is duidelik aangedaan en ontstel dat die voorbereidings ten spyte die wingerd versuim om vrug te dra.

Die wingerd is ook ter sprake wanneer ons aan die nagmaal dink. Hierdie keer verwys die wingerd en die vrug na die Here self. Die vrug daarvan, die wyn, is teken  van die selfprysgawe van die Here aan Golgotha se heuwel.

Ook in die gelykenis van die wingerd en die lote en die noue band wat daar tussen die wingerd, landbouer en die lote bestaan word die wingerd na vore gebring.

Die gelese gedeelte laat die klem val op die sorg van die landbouer en die verantwoordelikheid wat Hy daarvoor neem.

Dit word natgelei en beskerm sodat niemand skade aanrig nie. Die wingerd staan uiteraard vir die Godsvolk, die nuwe Testamentiese gemeente, maar het ook betrekking op elke individuele gelowige.

Die woordjie “sorg” is belangrik en opsommend van die verhouding tussen die landbouer en die wingerd. Ons kan reken op die omvattende verbondsorg van ʼn getroue en liefdevolle God. Hy staan nie reg om te veroordeel en te verwyt nie maar veel eerder om ons van sy liefde en sorgsame teenwoordigheid te verseker.

Ons is na alles ʼn goeie wingerd. Ons goedheid het met die Landbouer se selfprysgawe en sorg te doen. Ons het rede om te sing.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.