ToekomsVenster: God spreek die laaste woord

(Foto: Hasan Almasi / Unsplash)

Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink. – Markus 14:25

Verwagting hou ʼn mens op koers. As jy jou hoop op die toekoms, jou vertroue in sy beloftes, die teenwoordigheid van die Gees verloor, raak dit baie moeilik. Selfs Jesus moes daarmee rekening hou dat Hy ʼn bitter moeilike tyd tegemoet gaan maar dat omstandighede soos die wat Hom te beurt val nie die laaste woord spreek nie.

God spreek die eerste en die laaste woord. Hy is die ja en amen, die begin en die einde, die alfa en die omega. Tussen daardie merkers lê jou en my lewe ingebed.

Ons is en word toegevou, beskut en beskerm deur sy liefdevolle sorg en nabyheid.

Soos Jesus het ons die verwagting dat die teenswoordige tyd sal verbygaan, dat alles nuut sal word, dat die oorwinning vas en seker is.

Ek weet nie watter uitdagings jou tans te beurt val nie?

Ek weet nie hoe naby jy aan handdoek ingooi is nie, hoe desperaat jy na God roep nie en hoe jy moet desperate mismoedigheid teëstaan nie?

Die Vader weet, Jesus weet en die Gees weet en Hy het belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie”.

Hy is Immanuel, God met ons. Ook vandag. (Lees ook Matt. 1:23)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.