ToekomsVenster: God verhoor skietgebede

(Foto: Ben White/Unsplash.)

Neh. 2:4 – Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel

Nehemia is die koning se skinker en staan in ʼn baie nou verhouding met die koning van Babilonië, uiteraard ʼn baie magtige koning. Die geringste aanduiding van ontsteltenis by Nehemia kan verkeerd interpreteer word deur die koning en kan Nehemia sy lewe kos. Hy weet nie hoe die koning sy versoek gaan ontvang nie en is derhalwe baie versigtig. Hy het dit in sy hart voorgeneem om die koning te vra om hom na Juda te stuur waar sy volksgenote in die verskriklikste ellende verkeer. Die geskiedenis van Israel se wegvoering in Ballingskap is bekend en dit het daartoe aanleiding gegee dat Nehemia in hierdie hoedanigheid werksaam is. Die Jode het dikwels guns geniet in die heidense omgewing. Dink aan die verhaal van Josef en Daniel as twee voorbeelde. As die koning dan wel oplet dat Nehemia nie homself is nie vra hy waaraan sy melankolie toegeskryf kan word. Dit is hier waar Nehemia ʼn skietgebed opstuur na die God van hemel en aarde.

Wat is ʼn skietgebed?

Dit is wanneer daar nie tyd is vir stil word, dalk afsonder, eenkant kom of voorberei vir gebed nie. Dit is impromptu, op die daad, dalk iets soos ʼn noodsein wat na die hemel gestuur word. Uiteraard hoef ons nie hemelwaarts te bid nie. God woon deur sy Gees in ons.

Johannes 3: 36 – Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”

Johannes 17:3 – En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

Ons bid weliswaar “Ons Vader wat in die hemel is” om daarmee die gans andersheid van God drie enig aan te dui. Hy het egter van ons sy woning gemaak. Ons is immers tempel van die Heilige Gees en ʼn mens kan die Heilige Gees nie los van die Vader en die Seun dink nie. Die drie is een.

Die bedoeling van die teks is sekerlik dat God oomblik vir oomblik by en met ons is. Die vinnige gebed (skietgebed) verseker ons dat ons nooit alleen is nie en te alle tye kan reken om die krag wat van God kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Heilige Gees dankie dat U altyd by my is….dat U my leer en lei….Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.