ToekomsVenster: God weet

(Foto: Junel Mujar/Unsplash)

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! – Jer. 29:11

Te midde van elke dag se onsekerheid is hierdie belofte van die Here soos ʼn vars bries, nie waar nie? Daar is soveel dinge wat ons nie weet nie, trouens, daar is bitter min indien enige iets waarvan ons natuurlikerwys en vanuit onsself verseker is.

Ons begin die dag met verwagting en hoop en glo dat ons die einde daarvan sal sien. Ons belê ʼn geldjie hier en daar, en vertrou dat die opbrengs nie sal teleurstel nie. Ons gaan slaap in die aand en hoop dat daar nie op ons privaatheid inbreuk gemaak sal word deurdat diewe toegang verkry tot ons huis nie.

Soveel scenario’s en moontlikhede maar een gemeenskaplike faktor – ons is ten diepste onseker en leef of blindelings voort, of verlaat ons op die beloftes van God soos vervat in die Bybel.

Ons weet nie maar, God weet. Wat ʼn heerlike vertroosting, merkwaardige sekuriteit bied die bekende teks nie.

As ʼn mens toegee aan die gevoel van onsekerheid word angs en vrees deel van jou elke dag se bestaan, dit kan tog nie anders nie. Een van die basiese behoeftes van mense is juis ʼn geborge en veilige bestaan. Die lewe bied dit egter nie – die wêreld soos ons dit ken is gebroke, voorlopig en stukkend.

Net God bied die antwoorde op ons kwelvrae en selfs al is dit nie altyd duidelik nie, bly die versekering dat Hy dit met ons goed bedoel en dat niks ons kan skei van sy liefde nie.

  • Ons weet dat vir hulle wat God liefhet alles ten goede meewerk.
  • Ons weet dat ons name geskrywe is in die boek van die lewe en van die Lam.
  • Ons weet dat geen haar van ons hoof val sonder dat die wil van die Vader nie betrokke is nie.
  • Ons weet dat God sorg en versorg.
  • Ons weet dat Hy ons nie sal teleurstel soos die bekende Ps. 34 ons van verseker nie.

God weet – alles – altyd – sonder twyfel. Vertrou Hom vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat U die Almagtige God my ken en my liefhet…Amen

Blomme

Amen