ToekomsVenster: God word nie ingeperk

(Foto: Nitish Meena/Unsplash.)

Jer.33:1-3 – Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

Jeremia is ingeperk vanweë die vyandskap wat daar heers oor hy dit waag om die boodskap van God se geregtigheid durf verkondig. Uiteraard kan hy nie stilbly nie en dit gee aanleiding tot woede en onverdraagsaamheid. Hy is ingeperk in die binneplaas van die paleiswag terwille van die waarheid.

Dit mag so wees dat Jeremia se bewegings ingeperk is, dat hy van sy vryheid ontneem is, dat sy lewe in gevaar is, dat hy nie seker is dat hy die volgende dag sal sien nie, maar Jeremia se  God is nie ingeperk nie. Hy bemoedig Jeremia deur sy Gees en nooi hom uit om in gesprek te tree met Hom. Hy belowe Jeremia dat dit nie die einde van die pad is nie maar net ʼn oomblik in God se op weg wees met die wêreld, Jeremia en sy konteks.

God word nie deur die stelsels en wreedhede van hierdie wêreld bedreig nie. Wat vir die mens soos die einde van die pad lyk is vir God ʼn uitnodiging tot ʼn nuwe begin.

Psalm 1 getuig van die geskarrel onder die volkere van die wêreld. God laat Hom nie intimideer deur aardse arrogansie nie. Sy Gees beweeg vrymagtig en kan nie geketting, geboei of gevange geneem word nie.

Jeremia beleef ʼn vryheid wat nie onder woorde gebring kan word nie. Dis die vryheid wat in die geestelike dimensie bestaan. God se Gees en ons gees in ewigdurende gesprek met mekaar. Sy Gees wat ons herinner dat ons kinders van die Lewende is, dat alles ten goede meewerk en dat aardse beproewing nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat gereed is om geopenbaar te word aan die einde van die tyd nie.

Die Here is nie klaar met Jeremia nie derhalwe die uitnodiging “roep My aan en Ek sal jou antwoorde en jou van groot en onverstaanbare dinge vertel waarvan jy nie geweet het nie” .

Die helfte is Jeremia nie vertel nie, jou ook nie. Dit is eers klaar wanneer die Here sê dit is klaar. Dit mag soos ʼn cul de sac in die pad lyk maar let fyn op, die kronkelpaadjie na God se nuwe toekoms, loop net skuins verby.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here U is altyd in beheer….open asb ons geestes oe en ore…Amen