ToekomsVenster: Goeie Vrydag – Vrede met God, jouself en ander

(Foto: Thanti Nguyen/Unsplash)

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. – Johannes 3:16

Ons dink vandag aan die groot prys wat betaal is sodat ons God se vrede in ons lewens kan hê.

Vrede is ’n waardevolle gawe en werk in verskillende rigtings. Uiteraard is die vrede met God van kardinale belang. Alle ander verhoudings groei daaruit.

Ons is vanweë ons sonde van Hom vervreem. Dit kan ook nie anders nie, immers, hoe kan onvolmaaktheid, sondigheid, selfsug en eiebelang betekenisvolle gemeenskap hê met Een wat heilig en volmaak is.

In ons “natuurlike staat” sou ons onmiddellik sterf, dit is wat die Bybel ons leer, die loon van die sonde is die dood. (Rom.3:23)

Goddank, dat ons nie in ons sonde hoef voort te lewe nie. Dit is dom om met en in sonde te volhard.

Vrede is die produk van versoening met God, versoening op grond en as gevolg daarvan wat Hy namens ons vermag het op Golgotha se heuwel.

Vanuit die vrede met God groei vrede met myself en met my naaste.

As ’n mens Jesus ken as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker hou die ‘binnegevegte’ op. Daarmee bedoel ek die manier waarop ons onsself veroordeel, verwens en verrinneweer.

Ons dink heimlik dat deur stief te wees met onsself ons dalk punte by God verdien, so asof ons die werk aan die kruis darem ’n bietjie wil aanvul.

Dit is hartseer om die offer van Jesus ten spyt steeds met jouself in ’n staat van oorlog te verkeer.

Liefde vir die naaste vloei voort uit liefde vir die self. Daarom sê die Skrif “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Jesus benadruk dit in die Johannes Evangelie as Hy sê dat ons mekaar so lief moet hê as wat Hy ons het. (Joh.13:34)

Ai, ons mag die implikasie van die kruisgebeure vir ons lewens nie miskyk en misverstaan nie.

Jesus het klaar betaal. Hou op om self daarby te probeer byvoeg. Leef uit sy liefdesversoening en deel die vrede met ander mense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.