ToekomsVenster: Groei om soos Christus te wees

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. – Efesiërs 4:14-15

As ʼn mens eers, hoe onverstaanbaar ook al, met die Evangelie van verlossing en die Persoon van Jesus uitgekuier is, stel jy jouself oop vir allerlei vorme van misleiding.

Die vraag kan egter gevra word of iemand wat so gemaklik “elke wind van lering” om Paulus aan te haal volg regtig ʼn ontmoeting met die lewende Christus gehad het?

Mens kan mos nie genoeg kry van Jesus en sy liefde vir ʼn verlore gaande wêreld nie, of hoe, en tog – waarom raak mense die pad so gemaklik byster?

Dat gelowiges ernstig moet wees om Jesus in die klein besonderhede van die lewe te volg is uiteraard so. Dit impliseer ʼn ingesteldheid van fyn luister en onderskei hoe Hy sou wou hê jy jou lewe en lewenskeuses moet inrig.

Die probleem kom wanneer die verlossing in Christus Jesus en die oorvloed genade wat daarmee gepaard gaan net nie meer genoeg is nie.

Dit is nie lank nie en ʼn mens is terug waar jy begin het – weereens ʼn gevangene van menslike filosofie en denke.

Daar is niks minder en niks meer as Jesus en Hy as die gekruisigde en opgestande Here nie. Dit is die geheimenis wat “nou” volgens Paulus geopenbaar is.

Hierdie Waarheid en die wonder daarvan sal ʼn mens vir altyd en ewig aangryp, jy kan daaraan nie gewoond raak nie.

Die lied sê tog: “Amazing grace how sweet the sound that saved a wretch like me. I once was lost but now I’m found, was blind but now I see”.

Ook die laaste versie se woorde spreek my aan: “When we’ve been there ten thousand years, bright shining as the sun. There’s no less days to sing God’s praise than when we first begun”.

Ek staan verwonderd oor watter interessanthede mense uit die Skrif na vore kan bring en dan as die nuwe geopenbaarde waarheid kan aanbied.

Die Waarheid is egter klaar en volledig openbaar – ons kan in ons verstaan en waardering daarvan net groei en groei en groei. Dis al wat daar is en dit is volledig, genoeg en oorvloedig. Wanneer laas het die Evangelie jou aangegryp?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.