ToekomsVenster: Hande om mee diensbaar te wees

hande-wat-liggies-vashou

Foto: Diego PH/Unsplash.com

Somtyds vra mense wat hulle tog vir die Here en sy Koninkryk kan doen. Die bewustheid dat daar meer aan die lewe is en moet wees as opstaan, werk en slaap is prysenswaardig. Niks is uitgesluit by God se genadewerk nie en hierdie sake is inderdaad ook uitdrukkings van die Koninkryk. Tog is daar ʼn bewustheid dat die Here elke mens binne ʼn bepaalde konteks ontplooi en met ʼn opdrag vertrou.

Die gelykenis van die man wat op ʼn ver reis vertrek het maar eers aan elkeen van sy werksmense ʼn sekere aantal talente gegee het kom by my op. Dit is bekend, so ook die afloop van die verhaal.

Terwyl sommige ernstig omgegaan het met wat aan hulle toevertrou is, het ander verkies om die talent te begrawe wetend dat die eienaar verslag gaan vra wanneer hy terugkeer. Die implikasie van die gedeelte is voor die hand liggend vir elke Christen.

Vanoggend toe ek vir my vroutjie ʼn paar skywe papaja sny om saam te neem skool toe (sy is hoof by ʼn kleuterskool) sien ek my hande raak. Ek word bewus daarvan dat die wyse waarop ek in hierdie lewe handel meestal deur my hande plaasvind. Jy kan maar self ʼn bietjie nadink oor hoe strategies belangrik jou hande is. Dit is een van die vernaamste instrumente wat God aan ʼn mens gegee het om mee diensbaar te wees.

Hande kan vir goeie, Godverheerlikende doelwitte of destruktiewe, negatiewe handelinge gebruik word.

Dit trek nader en stoot weg.

Dit liefkoos en troos maar kan ook klappe uitdeel.

Dit gee maar kan ook vat.

Wonderlik maar gevaarlik om hande te hê veral as dit vir die verkeerde goed aangewend word.

Daar is altyd ʼn tekort aan hande.

Op die hoek van die straat staan iemand wat jou hande nodig het. Oorkant die pad is die ou dame op jou hande aangewese.

Sondag omhoog, Maandag tot Vrydag in die deeg by wyse van spreke.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.