ToekomsVenster: Hanteer hopeloosheid

(Foto: Pablo Heimplatz/Unsplash)

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. – Rom. 8:17

Wie het gesê dat ʼn mens sonder water en voedsel vir ʼn tyd lank kan oorleef maar sonder hoop, glad nie? Hoop hou ons staande, die hoop wat op die vaste fondasie van die geloof gebou word.

Ons omstandighede verskil. Dalk gaan dit al geruime tyd sleg. Dit voel of jou gebede op dowe ore val. Jy wil opgee met die geloof, trouens jy het al ʼn ent gevorder daarmee. Jy soek na antwoorde en kry dit nie. Jy het jou lewe ondersoek en kan soos ʼn Job sê dat jy nie skuldig is nie. Jou lewe was nog altyd op God gerig. Jy het jou daarop ingestel om Hom te behaag. Jou hand en hart was nog altyd oop vir wie ook al daarop ʼn appèl sou maak.

Die swaarkry het egter nou te veel geword, jou eie of die van ander na aan jou.

Ek wens ek het ʼn eenvoudige antwoord. Geloof is iets anders as verstaan. Sommige dinge wat met ons gebeur word nie verduidelik nie, trouens dit is dalk in die meeste gevalle so. Dalk help dit om oor jou lewe na te dink – dit gaan darem nie altyd konsekwent sleg nie. Miskien het die swaarkry so oorweldigend geword dat jy die mooi nie meer raaksien nie.

Het jy vriende, ʼn vertroueling, ʼn geliefde, kinders, ʼn verwysingsraamwerk, ʼn geloofsfamilie?

Het jy kos op die tafel en ʼn dak oor jou kop?

Jy het selfs ʼn deposito van geloof in jou hart wat in geloofsvertroue geaktiveer kan word en nuut op God en sy beloftes gerig kan word.

Sjoe, ek dink darem nie daar is mense met wie dit van opstaan tot gaan slaap, van oomblik tot oomblik, week in en week uit, net sleg gaan nie. Stop en ruik die rose en daarmee probeer ek nie jou seer en swaarkry minimaliseer nie.

Ek sukkel en worstel ook soms, ek het al reguit met die Here gepraat. Jy mag dit ook doen.

Sê vir Hom dat jy op moedverloor se vlakte is en vra Hom om die son van geregtigheid nuut oor jou te laat verrys.

Hy kan jou nie teleurstel nie, Hy is verbondsmatig daartoe verbind. Sterke!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Nee, ek hou glad nie van die laaste drie sinne nie, Jannie. Ons vertel of sê niks vir die Here nie. Ons praat nie “reguit” met Hom nie. Hys nie ons maatjie nie. Wanneer ons met Hom in Sy Alwetendheid praat dan doen ons dit in afhanklikheid en aanbidding, sonde belydend vra ons. Hy skuld ons niks nie, ons kan Hom nie probeer gyselaar hou nie. Ons moet te alle tye Sy Heiligheid en Almag respekteer en eer, VERAL wanneer ons met Hom in gesprek tree.
Glo jy het dit net verkeerd uitgedruk.

Yvonne ·

Here met eerbied en danksegging kon kniel ek by U voete, laat U wil geskied …Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.