ToekomsVenster: Hanteer ongekontroleerde gedagtes

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. – Rom. 8:5-6 (83 Vert.)

Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. – Rom. 8:5-6 (NLV)

Ai, die gedagtes van ʼn mens kan darem met jou mors. Ek dink nie daar is ʼn enkele mens wat nie somtyds in ʼn doolhof van niksseggende gedagtes vasgedraai raak nie. Negatiwiteit, self veroordeling en skuld, bitterheid, opstand, selfbejammering, verwyte, so kan ek aangaan. Ons ken daardie ervaring al te goed.

Die soort gedagtes kom tot niks, dit draai ons vas en beroof ons van vrede en rus.

Die teks het ʼn duidelike oplossing vir die toedrag van sake. Jou gedagtes moet deur God beheer en oorheers word. Jy is bekend met die Filippense teks nie waar nie:

Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. – Fil. 4:8 (NLV)

Wat moet ʼn mens dus doen? Vra die Heilige Gees om jou gedagte se wêreld in beslag te neem, om jou denke te rig, om jou fokus te verskuif, om jou oorwinning te gee. Dit is ʼn treffende wyse waarop die Nuwe Lewende vertaling die saak stel – “gedagtes wat die Gees gelukkig maak”.

Paulus se bekende woorde in Rom. 12 het betrekking: Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hy wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.

Is jy ʼn gevangene van neerdrukkende, herhalende, ontmoedigende en ook sondige gedagtes. Hier is die antwoord.

Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. – Kol. 3:2 (NLV)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U my so dikwels help met malende gedagtes….lof en dank kom U toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.