ToekomsVenster: Hanteer verkeerde keuses

padwysers-keuses

(Foto: Javier Allegue Barros/Unsplash)

Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. – Rom. 8:9

Ons het gedurende die afgelope week gesels oor ʼn paar jakkalsies wat die wingerde kan verniel. Die worsteling met skuldgevoelens, ongekontroleerde gedagtes, vrees, hopeloosheid en vandag die verkeerde keuses wat jy maak.

Ek herinner jou aan Paulus, dit help darem so ʼn bietjie as jy aansluiting vind by iemand in die Bybel wat bereid is om te erken dat hy ook somtyds sukkel. Jy ken die teks:

So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. – Rom.7: 21-25

Die Bybel is ʼn eerlike boek en eerlike mense vind troos daarin.

Soveel mense gaan gemasker deur die lewe. Hulle gee voor dat alle sondes onder beheer is maar dit is nie. Hulle hou die skyn van ʼn oorwinningslewe voor maar worstel self. Feit van die saak is dat mense sommer gou deur die skyn sien.

Wat die wêreld, die geloofsgemeenskap nodig het, is eerlike mense. Dit beteken nie dat jy met jou hart op die mou rondloop en jou verleentheid en versoeking met die hele wêreld deel nie maar dat jy darem iewers iemand het met wie jy eerlik kan wees. Elke gelowige behoort ʼn mentor te hê met wie in ʼn atmosfeer van vertroulikheid gesels kan word. Dit maak die las soveel ligter en bring perspektief.

Ons het dit verskeie kere vir mekaar hierdie week gesê en dit na aanleiding van die teksgedeeltes in Romeine 8 wat ons saamgelees het; die geheim van ʼn oorwinningslewe is die Heilige Gees.

Dit beteken egter nie dat jy die Heilige Gees soos ʼn pynpil sluk en skielik is alles reg nie, inteendeel. Dit neem soms dae, maande en jare om die oorwinning te smaak. Hoofsaak is dat jy jouself op ʼn trajek van genesing, herstel en vrymaking bevind.

Kitsantwoorde stel op die lange duur teleur.

Begin die pad loop, praat met iemand, bely teenoor mekaar, sê die Bybel.

Jy is nie alleen nie, ons almal sukkel, maar daar is oorwinning.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.