ToekomsVenster: Hanteer vrees

vooroordeel-en-vrees

(Foto: Jeremy Perkins/Unsplash)

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie. – Rom. 8:15 (1983-vertaling)

Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. – Rom. 8:5-6 (NLV)

Vrees is ʼn aaklige en benouende ervaring en eie aan menswees. Dit is bekend dat die Bybel op bykans elke bladsy van die Bybel ons maan om nie bang te wees nie.

God verstaan en ken ons by die naam en weet wat dit is wat ons onseker en bang maak.

Die wêreld is ʼn onveilige plek, dit was nog altyd so. Die toekoms is duister en veral aan die begin van ʼn nuwe jaar kan ʼn mens in ʼn kolk van vrees vasgevang word.

Vrees spruit voort uit ons onvermoë om sake te beheer. As ons in alle opsigte en oor alles in beheer was sou ons die gang van sake kon bepaal. Dit is egter nie die geval nie. Ons het God se Woord en die beloftes wat daarin vervat is en dit behoort genoeg te wees om ons in vertroue op die toekoms te rig.

Vrees verlam ʼn mens, dit ontneem jou van jou vrymoedigheid, dit lei tot selfbejammering en dit is nie ʼn goeie getuienis van die krag van die inwonende Gees nie. Die woordjie “slawe” in ons aangehaalde teks is gepas.

Vrees maak van ons slawe, ons rig ons hele lewe daarop in om soveel sekuriteite as moontlik rondom ons te vergader.

Feit van die saak is dat ons nie in beheer is nie. Daarmee moet mens sommer gou vrede maak. Ons ken egter die Een in alles in beheer is.

Dit beteken nie dat minder aangename dinge nie somtyds met ons gebeur het nie. Christene het deel aan die stukkende en in sonde gevalle wêreld. Ons word nie hartseer en teleurstelling van die lewe nie noodwendig gespaar nie.

Tog dra die beloftes van die Here ons:

En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. – Rom. 8:28 (NLV)

“Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.” – Matt. 6:34 (NLV)

Die bekende teks gaan voort om grafies die nutteloosheid van bekommernis en vrees te verwoord. Dit verander geensins aan ons omstandighede nie.

Nee wat, ek was genoeg bang in my lewe en dit is ʼn persoonlike getuienis. Ek wil die Here vertrou in 2022 en aan vrees geen vatplek gee nie. Die oomblik wanneer vrees hom aan my opdwing kies ek om my te omring met die ewigdurende beloftes van God. Mag dit ook van jou waar wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Heer dat ek niks het om voor te vrees nie….U beloof dat niks maar niks ons uit U hand kan ruk nie