ToekomsVenster: Hartlike diensknegte


drukkie-kyk-goed-na-ander

Argieffoto.

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. – Rom 12:10

Ek het gister gesê dat diens aan mekaar ietwat strydig is met die idee van ’n slaaf. ’n Slaaf het sy of haar heer gedien – nie andersom nie. In die Christelike geloofsgemeenskap is ons almal dienaars. Almal dien mekaar. Dis nie ’n eensydige verhouding nie, maar wederkerig.

In hierdie vers in Romeine word die idee van ’n gesin opgeroep. Dit gaan in hierdie vers oor die hartlike onderlinge liefde van lede van een gesin, skryf Otto Michel. Alle gesinne het egter ’n rangorde – die oudste en die jongste, pa, ma, middel kind en witbroodjie!

Om seker te maak dat ons nie hierdie orde in die gemeente oordra nie, moet ons die hele vers lees: ‘bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.’ Hier is geen rangorde nie. Inteendeel, hier kom die ander persoon altyd eerste. Ons is voorbeelde van hoe ons die kroon op iemand anders se kop hou. Ons bewys eerbied. Ons gee die eer wat iemand toekom. Vir ons is die ander persoon se waardigheid van allergrootste belang.

Miskien was daar mense in die gemeente wat hulleself belangriker as ander geag het. ’n Verwysing hierna kry ons vroeër in die hoofstuk: ‘Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het’ (Rom 12:3). As jy dus na ander kyk, moet jy hulle die plek gee wat hulle toekom, omdat God ook aan hulle ’n sekere ‘maat van geloof’ – gawes – gegee het. As iemand dus die gawe het om te leer of te dien of te bemoedig of om leiding te gee (12:7,8), eer ons daardie gawes waarmee hulle die geloofsgemeenskap verryk.

Ek het een van die wonderlikste kollegas in my eerste gemeente gehad. Hy het hierdie vers van Paulus baie goed verstaan. Hy het die vermoë gehad om elke mens te laat voel dat hulle geëer word. Hy het die kroon op my en ander se koppe gehou. Vir hom het dit om Christus gegaan, nie om homself nie. Hoe vaar jy daarmee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.