ToekomsVenster: Help mekaar om aan te hou


wegspringblokke-atletiek

Foto: Thecoachingtoolscompany.com

Heb 12:12,13: Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

Geloof is meer as ‘n beslissing om Jesus vir ons saligheid te vertrou. Uiteraard is dit een aspek van Bybelse geloof. As ons die brief aan die Hebreërs lees, sê die Nuwe Testamentikus Leonhard Goppelt, is geloof eerder die gevolg van bekering. Geloof is vasbyt, aanhou, om ‘n marathon te hardloop. Geloof word deurgaans met hoop verbind (6:11 ev; 10:22 ev; 10:36, 39; 11:1). Geloof beteken aan te hou glo en hoop, soos die mense van die Ou Testament waarna hy in Hebreërs 6 en 11 verwys.

Die brief vergelyk die kerk met die volk van God wat uit slawerny bevry is en op pad na die beloofde land was (Heb 3,4). Op hierdie pad het sommige mense uitgeval. Hulle het nie die beloofde land ingegaan nie. Sommige mense wou terugdraai. Hulle het moeg vir die woestynlewe geword. Hulle het hulleself teen die Woord van God verset. Daarom lees ons in hierdie brief dat daar ‘n dodelike gevaar op ons geloofsreis is, naamlik dat ons hoop kan verloor en uiteindelik met die evangelie in ons ore, terwyl ons die waarheid ken en sien hoe God werk, die beloofde land kan misloop (3:7,8; 4:1,2; 6:4-6; 12:16,17; 10:26-31).

Die antwoord op die gevaar van afvalligheid is uiteraard dat ons getrou sal bly aan die evangelie en ons oë op Jesus sal hou (12:1-3). Ons moet ook deur die aansteeklike voorbeelde van hulle wat voorheen op die reis was geïnspireer en bemoedig word (Heb 11).

Daar is egter ook ‘n ander oplossing. Dit is dat die gemeente mekaar sal help op die pad. Ons moet mekaar se hoop lewend hou (3:12,13; 10:24,25). Die gemeente word gedurig opgeroep om hulle verantwoordelikheid teenoor mekaar ernstig te neem, sodat die lam knieë en slap hande versterk kan word. Wanneer ons na mekaar omsien, hou ons die hoop aan die lewe.

Toe ons kinders was het ons ’n liedjie geleer wat waarskynlik deesdae onbekend onder die jonger geslag is. Van die woorde lui: ‘Aanstap rooies! Die pad is lank en swaar, die mense wag al daar en die koffie is al klaar. Opstaan, inspan, die laaste trek lê voor… tuis kom ons nog vannag waar ons geliefdes wag.’

Ons kan die liedjie op ons geloofsreis toepas. Ons moet mekaar aanmoedig om aan te hou. Daar is ‘n skare van geloofsgetuies wat die reis voltooi het. Dit was nie maklik nie, maar met die oë op Jesus en broers en susters wat ons op die pad aanhelp en aanspoor, sal ons die reis net soos hulle voltooi!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mirton ·

Ek wil net se dat ons betaal elke mnd water en krag maar ons moet nou weer R10.000 betaal en ons gebruik nie eers so baie krag en water nie.wat moet ons doen help asseblief

E ·

Laat die munisipaliteit ook jou kragmeter check en maak seker daar is nie pype wat lek nie. As jou water meter vinnig draai is daar n pyp ondergrond wat gebars het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.