ToekomsVenster: Help om pyn in vreugde te verander

Argieffoto (Foto: Milada Vigerova/Pixabay)

Gedurende hierdie week aandag gee aan die sogenaamde “Fourfold Franciscan blessing” geskryf deur ʼn Benediktynse suster Ruth Fox van Sacred Heart Monastery vir ʼn gradeplegtigheid in Dickinson State University in 1985. Die Afrikaanse verwerking is deur dr. Johann Voges. Ons gee elke dag aandag aan een van die bedes. Vandag se teks is:

Mag God jou seën om te kan huil saam met hulle wat seerkry as gevolg van pyn, verwerping, honger of omdat hulle alles verloor het wat vir hul kosbaar was… sodat jy jou hand kan uitsteek om te troos en hul pyn in vreugde te verander.

Gedurende hierdie jaar, baie bewus van die impak wat Covid-19 ook in Suid Afrika het is hierdie bede baie relevant.

Soveel mense het die lewe gelaat, trouens, met die sg. tweede vlaag wat hier en daar kop uitsteek is daar steeds mense wat hul lewens verloor. Tans het meer as 21 000 mense aan Covid-19-verwante siektes gesterf.

Dink aan die tienduisende hartseer mense wat deel vorm van daardie slagoffers se verwysingsraamwerk. Dit is mos so dat die eerste Kersfees en nuwe jaar sonder ʼn geliefde baie hartseer is. Mense het gedurende hierdie afgelope jaar op vele maniere die impak van hierdie wêreldwye pandemie ervaar. Nie minder as twee miljoen mense het hul werk verloor nie, terwyl honderdduisende, waarskynlik miljoene, in armoede gedompel is.

Sakeondernemings moes toemaak en daar is geen bedryf wat nie deur die virus geraak is nie. Vooruitsigte lyk ook nie goed nie en met die jaar 2021 voor die deur mag daar baie mense wees wat wonder of dit die moeite werd is om aan te gaan. Sommige sukkel met depressie en ander slaan hul hand aan hul eie lewens. Sielkundiges en psigiaters se programme is vol met mense wat emosioneel swaar kry en nie met die werklikheid kan saamleef nie.

As jy een van die geseëndes is wie se lewe nie deur Covid-19 geraak is nie, is jy inderdaad gelukkig. Derhalwe en veral dan, het jy die geleentheid om die lewe van iemand anders wat getraumatiseer is by te staan.

Jy kan jou hand uitsteek en mense se pyn al is dit dan net vir ʼn dag of drie, veral in die naderende Kerstyd, in vreugde verander?

Wat het die Here aan jou toevertrou waarmee jy iemand anders se swaarkry kan verlig?

Daar is niemand wat kan sê dat hy of sy niks het om mee te werk nie. Selfs ʼn woordjie of gebed op die regte tyd kan wondere verrig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.