ToekomsVenster: Hemelse vrede en krag vir jou

(Foto: Amelie Lachapelle/Pexels)

Ek wil graag gedurende hierdie week ʼn paar gedagtes met jou wissel oor Psalm 23. Nou wie is nie bekend met Psalm 23 nie, kan ʼn mens vra? Dit is sekerlik een van die mees bekende Psalms in die Bybel. Jy kan selfs ʼn ongelowige vra wat in Psalm 23 staan en hy sal begin met: “Die Here is my herder”.

Tradisioneel word Psalm 23 by begrafnisse voorgedra. Mense ervaar baie troos in hierdie wonderlike Psalm, veral in die gedeelte waar dit oor die dal van doodskaduwee gaan. Dat die Psalm troos inhou vir mense wat met droefheid leef, is inderdaad so. Die Psalm is egter veel meer as ʼn begrafnis-Psalm. Dit is inderdaad ʼn Psalm vir die en oor die lewe.

Ons het dit al dikwels vir mekaar gesê; die lewe is baie uitdagend. Die lewe kan somtyds baie onvriendelik wees teenoor mense. Ons almal het dit al beleef. Dalk beleef jy juis op hierdie stadium so ʼn tyd waarin die uitdagings oorweldigend na jou toe kom. Mag dit dan wees dat Psalm 23, hoe bekend ook al, jou troos en bemoedig.

Die Psalmdigter word as Dawid voorgestel. Dawid se lewe was nie maklik nie, inteendeel, daar was talle uitdagings gewees. Hy moes dikwels vir sy lewe vlug.

Die konteks van die Psalm word nie vir ons verduidelik nie. Presies wat Dawid se omstandighede was, is aan ons onbekend. Die terme wat gebruik word, dal van doodskaduwee (donker dieptes) en teëstanders, wil egter vir ons daarop wys dat hy moeilike omstandighede beleef het.

Dawid het ook op ʼn vroeë leeftyd skape versorg. Hy was bekend met die omstandighede, omgewing en uitdagings wat daarmee gepaard gegaan het.

Skape was ʼn maklike prooi en kon hulself nie verdedig nie. Die herder het volledig verantwoordelikheid geneem vir die welsyn van die skape. Dit is sekerlik teen daardie agtergrond en Dawid se bekendheid met die rol van ʼn herder, dat hy in hierdie Psalm by hierdie metafoor aansluit.

Ek wil vandag vir jou enkele verse uit die Psalm voordra. Lees en luister daarna met ʼn nuwe openheid om die stem van die Here te hoor.

Dis een van die merkwaardige waarhede van die Skrif dat daar altyd nuwe oomblikke en openbaringe na vore tree. Terwyl jy dit lees, of daarna luister, let op na waar jou gedagtes by wyse van spreke tot stilstand kom. Miskien wil die Here vandag rondom daardie gedagtes met jou saam kuier.

Die Here is my herder ek kom niks kort nie. Hy laat my in groen weivelde rus. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.

Mag die vrede en krag wat in hierdie Psalm belowe word, vandag jou deel wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.