ToekomsVenster: Here, ek glo

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto:
Freestocks.org/Pexels

Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. – Romeine 12:3

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ʼn mens God nie kan tevrede stel as ʼn mens nie vanuit geloof lewe nie (Heb.11:6).

Die meeste van ons kan met die volgende teks identifiseer:

“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” – Markus 9:24

Geloof en sy stiefboetie “twyfel” word dikwels in dieselfde huis groot. Hulle deel dieselfde ruimte.

Twyfel is ongeloof en ongeloof is sonde.

Jesus het nooit gedurende sy aardse bediening ongeloof gekomplimenteer of verskoon nie. Die nag op die stormsee is dit nie die gure weer wat Hom ontstel het nie, maar die gebrek aan geloofsvertroue by mense wat Hom reeds goed geken het.

Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. – Matteus 8:26

Deur geloof het die mense van die Bybelse tyd groot deurbrake belewe. “Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop…” (Heb. 11:33). Hulle het God op sy Woord geneem en kinderlik geglo.

Ons het soveel redenasies oor waarom ons die Here nie kan vertrou nie. Jesus verklaar aan die vooraand van sy Hemelvaart dat die Heilige Gees kom en dat sy volgelinge groter dinge sal doen as dit waarmee Hy besig was. Die mense uit die Nuwe Testament het God se betrokkenheid by hul lewens daagliks beleef.

Die Bybel sê geloof so groot soos ʼn mosterdsaadjie kan berge versit (Matt. 17:20) . Die voorwaarde is om nie te twyfel nie, maar te glo.

Abraham is die vader van geloof. Ons is sy nasate. Hy staan gereed om sy seun te offer in die wete dat God in staat is om Isak as’t ware uit die dood terug te gee (Heb. 11:19). Hy huiwer nie. Hy handel in ooreenstemming met sy belydenis.

Wat het jy gedurende die afgelope maande beleef en gedoen wat ʼn uitdrukking van geloofsvertroue was?

Geloof neem risiko’s, dit gaan waar ander versigtig loop, dit doen sonder om uitweë te soek, dit is onverbiddelik gehoorsaam.

Gebed:

Here, maak my ʼn mens van geloof.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Villiers ·

Lees Jakobus 1:6-8, en kyk waar dit sê oor iemand wat twyfel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.