ToekomsVenster: Here leer ons om te bid

gebed-hande-kerkbankie-deur-himsan

Foto: Himsan/Pixabay.com

Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” – Lukas 11:1

Ek het ʼn vermoede dat gebed nie ʼn gewilde onderwerp is om oor te praat en te skryf nie, doodgewoon omdat die meeste van ons so ontoereikend voel wanneer dit by gebed kom. Ek dink verder dat een van die redes vir die gevoel van verleentheid as dit by gebed kom daarmee te make het dat mense goed bedoel die beoefening van gebed deur allerlei voorskrifte en verwagtinge bykans buite te belewenisruimte van gewone gelowiges plaas. Wanneer ʼn mens boeke oor gebed lees voel jy enersyds aangespoor en andersyds mismoedig. “Ek kan nie daarby kom nie” wel onwillekeurig in ʼn mens se gedagtes op. “Ek het dit al probeer en misluk telkemale. Dis buite my bereik”.

Daardie tipe gebed los ek maar vir die geloofshelde. Ons vind hulle in die Bybel en ander op die preekstoele. Dan is daar hier en daar mense wat die onderskeiding behaal het en suksesvolle bidders is. Die res van ons maak gaandeweg vrede met die gedagte dat ʼn dinamiese en vervulde gebedslewe, veral as die standaarde wat deur ander gestel word, te ene male buite bereik is en sal bly.

Ek hoop dat hierdie beskeie nadenke oor gebed jou van selfverwyt en skuld sal bevry. Welkom in die kring van die mense wat dit nie regkry nie, altans nie soos ander dit voorhou nie. Ek het ʼn idee dit is presies wat die dissipels beleef het toe hulle Jesus genader het om hulle te leer bid. Die gebed wat Jesus voordra getuig van erns enersyds maar eenvoud andersyds. Almal kan so bid. Dit staan derhalwe as die model gebed bekend.

As ons nadink oor gebed in veral Jesus se lewe sou ons die volgende sonder vrees vir teëspraak kon konstateer.

• Jesus het gebid.
• Jesus het gereeld gebid.
• Jesus het tyd gemaak vir gebed veral na tye van uitputtende bediening en of wanneer hy sekere belangrike besluite moes maak of momente moes nader.
• Vir Jesus was gebed om eerlik met sy Vader te praat. Hy kon sy hart uitstort in ʼn ruimte waar Hy geweet het dat Hy welkom is.
• Nêrens word voorskrifte gegee van hoe lank en hoe teologies verhewe gebed moet wees nie.
• Nêrens word mense verwyt of verneder omdat hulle nie indringend genoeg, slim genoeg of gebid het nie.
• Gebed en geloof is pasmaats. Die een kan nie sonder die ander nie alhoewel mense somtyds hul gebrek aan geloof bely het.

Ek vertrou dat jy al begin aanvoel dat gebed gewone mense se kommunikasie met die lewende God behels. In ʼn atmosfeer van liefde en aanvaarding. Sonder vrees en voorbehoud. Sommer net gesels, uit die hart eerlik en opreg.
Voel jy al meer gereed vir gebed?

“Geen studie kan opmaak vir die versuim om te bid nie. Geen ywer, geen toewyding, geen studie en geen geskenke sal voorsien in die gebrek van gebed nie.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Dis die beste geskrywe oor gebed wat ek nog gelees het!! Baie dankie vir die gedeelte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.