ToekomsVenster: Here, U is my God

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Jesaja 25:1 – Here, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.

Hierdie gedeelte in Jesaja 25 het sommer diep in my hart gekruip. As jy die teks toelaat sal dit op jou groei en jou lewe onherroeplik verander.

Ek wil graag in die week wat voorlê net oor die eerste vyf woorde van Jesaja 25 gesels. Net die woorde “Here, U is my God”. Ek wil ook die versugting uitspreek dat jy in die week wat kom die woorde telkemale in jou eie hart sal bely. Dit is inderdaad aangrypend en lewensveranderend.

Ons gaan aan die hand van ʼn paar vrae na hierdie vyf woorde kyk:

  • Kan ʼn mens die belydenis op jou lippe neem?
  • Wanneer kan ʼn mens hierdie belydenis voordra?
  • Vir wie is hierdie belydenis bedoel?
  • Watter implikasie het hierdie belydenis vir ʼn mens se lewe?
  • Hoe word hierdie belydenis in jou lewe verwerklik?

Daar is mense wat sê dat dit ietwat arrogant is om te dink dat ʼn gewone mense so familiêr met God kan omgaan. Na alles, Hy is verhewe, ver bokant ons begrip of verstaan.

Is dit nie heeltemal onvanpas dat ʼn mens ietwat aanmatigend aanspraak maak daarop dat daar ʼn noue band tussen hom en die God van die Bybel bestaan nie? Immers, die woorde getuig van so ʼn intieme verhouding.

Die woorde impliseer tog seker ook dat God sou terug antwoord en sê, “jy is my kind”, nog meer persoonlik as dit, “Jannie, jy is my kind”.

Die orde is in elk geval omgedraai.

God se uitverkiesende genade gaan ons belydenis vooraf. Hy het ons eerste liefgehad, leer die Bybel ons. Sy liefde vir gewone sondige mense is in elk geval verrassend ongewoon. Ons het niks om Hom aan te bied behalwe ons eie gebrokenheid, sondigheid en selfs opstand nie.

Die merkwaardige van die Bybelse boodskap is juis dat God ʼn persoonlike verhouding met sy kinders begeer en moontlik maak. Adam en Eva se storie vertel ons juis van hoe die Skeppergod, die God van die heelal wat alles deur ʼn enkele woord tot stand gebring het, in die middaguur sy kinders opsoek nie.

Die ongeskonde omgang tussen God en Adam en Eva moes spesiaal gewees het. Stel jou dit voor, Hy wandel saam met hulle in die tuin wat Hy aangelê het, verlustig Hom saam met hulle in die interessante optrede van die diere, bewonder die verskeidenheid voëls wat in die bome nes maak, sit langs ʼn kabbelende waterstroom en geniet die stilte van die oomblik.

Die verhouding getuig van intimiteit, warmte, liefde en aanvaarding.

Dwarsdeur die Bybelse geskiedenis is dit God wat mense opsoek. Hulle geneigdheid is weg van Hom. Hulle is rebels en eiewys. Hulle het geen erg aan sy voorskrifte en bepalings nie ongeag dat ʼn ander pad hulle op ʼn dwaalspoor lei.

Hy buig Hom altyd weer en weer neer, openbaar Homself in sy Goddelike heerlikheid, praat met mense soos met vriende, nooi hulle dieper in ʼn verhouding in. Nee, dit is nie arrogant om te bely dat ek ʼn persoonlike verhouding met Hom het nie, dit was altyd sy plan gewees. “Jannie, jy is my kind” waarop ek mag antwoord “Here, U is my God”.

Dit is tegelykertyd die terme van die verbond, nie waar nie? Ek wil jou God wees en jy moet vir my ʼn kind wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.