ToekomsVenster: Herlewing op God se tyd

Argieffoto (Foto: H Shaw/Unsplash)

“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” – Johannes 10:10 (AFR53)

Ek wonder hoeveel lesers en luisteraars is bekend met die begrip “herlewing”?

Dit word binne verskeie kontekste gebruik en het daarmee te doen dat wat leweloos en onproduktief geword het, weer tot sy eertydse glorie en bedoeling herstel word. Daar het oor ʼn bepaalde tyd stagnasie ingetree en die saak se belangrikheid het op die agtergrond geraak. Die effek van hierdie agteruitgang word egter gevoel.

As niks gemis word nie, moet dit wees omdat iets in die plek daarvan gekom het wat net so effektief of selfs beter is.

Dit kan ook wees dat die agteruitgang van so ʼn aard is dat belanghebbendes heeltemal tred verloor het met wat regtig van waarde is.

Wanneer ons binne kerklike en geestelike konteks oor en van herlewing praat, word verwys na ʼn gestadigde agteruitgang in gelowiges se toewyding en liefde vir God. Ander goed het die plek van prominensie, wat Hy beklee het en moet beklee, verdring.

God dring Hom nie aan mense op nie. As dit die keuse is wat mense uitoefen, laat die Here hul begaan.

Die lewe sonder God se nabyheid voorspel egter niks goed nie. Dinge loop noodwendig verkeerd. Aanvanklik mag die gemis subtiel wees en nie so merkbaar nie. Terwyl dit goed gaan is die belangrikheid van ʼn lewende verhouding met die Here ook nie prioriteit nie, immers, ons is almal so besig en het talle goeie redes waarom geestelike sake tweede viool moet speel.

Dit is egter veral wanneer daar ʼn krisis opduik dat ons nadink oor waar ons met die Here staan.

Ons almal ken die ervaring van geestelike krisisbestuur. Die skietgebed klink dikwels so: “Here, nou moet u help en vergewe dat ek my verhouding met u ietwat verwaarloos het. Ek belowe, help net nog hierdie slag.”

Ai, wat is ʼn mens darem?

Daar is ʼn belangrike teks in die Bybel. Dit lui vry vertaal: “Dit wat ek in jou begin het (die Here is aan die Woord) gaan ek klaarmaak, maak nie saak wat nie”.

Daarom gebeur dit dat die Here ons aandag trek en moet trek deur harde bene te kou.

So ʼn val en opstaan lewe is nie God se bedoeling met ons nie, veel eerder wil Hy dat ons daagliks in afhanklikheid, dankbaarheid en toewyding sal leef.

Partykeer moet ʼn mens terugkom voordat die Here jou moet terugbring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Dit het die Here behaag, ter wille van Sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak.
Jes 42:21
Maar gewoonlik sien ons dit nie as “heerlik” nie, want dit maak seer!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.