ToekomsVenster: Herontdek jou vreugde en vrede

sparkler-lig-vonke

Foto: Cristian Escobar/Unsplash.com

ʼn Plaaslike hoërskool het onlangs die musiekblyspel Sister Act opgevoer en ons het dit bygewoon. Ai, dit was ʼn heerlike ervaring.

Wie het nog nie die rolprent Sister Act gesien nie en onthou nie die merkwaardige storie nie?

Deloris van Cartier, vertolk deur die legendariese Whoopy Goldberg, is ʼn sangeres in ʼn nagklub. Sy beland haarself in die moeilikheid as sy sien hoe haar kêrel, ʼn regte skobbejak, sy chauffeer gewetenloos doodskiet. Sy meld dit by die polisie aan en omdat haar lewe nou  in gevaar is word sy as deel van ʼn getuie beskermingprogram  in ʼn klooster  weggesteek totdat die hofsaak plaasvind. Daar keer sy die hele orde op sy kop.

Sy is onkonvensioneel in haar optrede, flambojant, vertonerig, uitgesproke en baie energiek. Boonop weet sy van die lewe in ʼn klooster absoluut niks nie en alhoewel die ander susters haar interessant vind voel die klooster moeder baie bedreig. Julle ken die storie.

Sy verower die harte van die vroue daar en begin om leiding te gee met die klooster se, op daardie stadium, bedenklike koor. Dis nie lank nie en hulle is ʼn uitvoerproduk wat vir die vroue wat sing ʼn sprankelende ervaring word. Die koerante en TV berig oor hierdie gemeente wat skielik ontwaak het en mense en geld stroom na die klooster en plaaslike gemeente.

Die susters begin om vanuit hierdie nuutgevonde vreugde die gemeenskap op sy kop te eer.

Dan vind die rampokkers uit waar Deloris haarself bevind maar die susters maak korte mette van die skarminkels. Die Pous hoor van die nou welvarende en dinamiese gemeente en besluit om dit te besoek.

Met verwysing na die kerk in die wêreld het ek weereens daarvan bewus geword dat ons dikwels teenoor die ongelowige wêreld saai, verbeelding- en vreugdeloos vertoon. Terselfdertyd loer ons na die wêreld daar buite, maak seker dat niemand ons sien nie, maar verlang na die vryheid en vreugde wat hulle belewe.

Dit het iemand van buite gekos, sonder al die bagasie van geestelike voorsê en stokkerige kerklike modelle om die susters te wys wat vreugde en vryheid is.

Deloris, nou bekend as Suster Mary Clarence om haar ware identiteit te verbloem,  mag nie “gered” wees nie om ʼn term te gebruik waarmee lesers en veral Christene bekend is nie, maar sy besit iets waarna baie Christene hunker maar te bang is om die konvensie uit te daag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Corné Roets ·

Baie dankie vir die puik inhoud. Moet asb geen ander eposse as die waarop aangeteken is stuur of epos adres aan 3de partye uitgee nie.

OWO ·

Die vreugde en vrede waarna jy verwys is die wêreldse vreugde en vrede,en daar is niks daarmee verkeerd nie.Dit is egter van korte duur en hou nie lank nie.Die innerlike vreugde en vrede wat deel is van die Vrug van die Gees is egter blywend en is vir almal beskikbaar wat dit deel van hulle lewe maak.Dit is deel van die karakter van Jesus Christus wat alles oortref.Indien stokkerige kerklike modelle nog voorkom is die gemeentes self te blameer.Daar is baie denominasies vandag wat baie kreatief is in Woord verkondiging en geestelike sake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.