ToekomsVenster: Het hy ʼn reg om kwaad te wees?

klok-in-oos-vrystaat-deur-jb

Foto: Juanita Badenhorst.

Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?” – Jona 4:4

Ag, die Jona verhaal. So tekenend van ons eie wandel of gebrek aan wandel met God. So tekenend van ons eie vooroordele en vrese.

God stuur Jona na Nineve, aartsvyande van Israel. Jona wil daarvan niks weet nie. Hy besluit, hoe onsinnig dit ook al mag wees, om van God weg te vlug en bevind hom op ʼn skip wat in die teenoorgestelde rigting vaar. Ai Jona, hoe dom en hoe astrant.

Die storm steek op terwyl Jona slaap. Hy word deur die ontstelde bemanning wakker gemaak en gevra om saam met hulle God en die gode te smeek dat hul bewaar sal bly. Jona doen die eerbare ding en bely dat dit sy ongehoorsaamheid is wat hierdie toedrag van sake tot gevolg het. Die bemanning probeer alles om die skip en sy bemanning te red waarvan Jona een is. Uiteindelik doen hulle wat Jona aanbeveel. Hy word oorboord gegooi en die storm bedaar.

Jona gaan steeds teësinnig en roep onsimpatiek oordeel oor die stad uit. “Oor drie dae word Nineve vernietig”. Geen uitnodiging tot bekering en ʼn herinnering daaraan dat God sondaars wil red nie. Net ʼn oordeelsaankondiging.

Tot Jona se verbasing reageer die mense van Nineve met ootmoed en kondig ʼn vas af. Hulle verbind hulle aan die God van Jona waarop die Here sy vernietigende oordeel opskort. Jona is woedend en soos ʼn stout kind skuil  hy onder ʼn rankplant. Die verdor ewe seremonieel terwyl Jona daar sit. Daaroor is hy nog meer ontsteld en hy wens dat hy kan sterwe. Dis hierop dat God vir Jona vra wat met hom aangaan. Jona, het jy rede om kwaad te wees? Jy is ontsteld oor die rankplant maar ek mag my die bekommer oor die inwoners van Nineve, een honderd en twintig duisend en baie vee nie.

Waaroor is jy ontsteld? Vir wie wou jy hê moet God straf en tugtig en toe bewys hy genade en barmhartigheid aan hulle? Moenie soos Jona wees nie. Moenie vergeet dat ook jy ʼn onverdienstelike dienaar van God is nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.