ToekomsVenster: Het jy al nagedink oor die ewigheid?

(Foto: Ann Savchenko/Unsplash)

Ons gesels hierdie week oor die tema “het jy al” en vandag se oordenking het met die ewigheid te doen.

As ʼn  mens so besig raak, en almal aan jou “rokpante trek”, jou aandag opsoek en hier en daar vertel hoe onvervangbaar belangrik jy is, kan ʼn mens begin dink dat jy vir altyd hier op aarde sal wees. Immers, hoe gaan mense sonder my regkom?

Feit van die saak is dat die belangrikste mense, merkwaardige rolspelers in die samelewing, mentors, geleerdes, rigtinggewers, die wat paradigmaskuiwe maak, helde en rolmodelle ʼn verjaardatum het.

Ons wat ietwat ouer is, word intens bewus van hoe ons tydgenote, die tydelike met die ewige verwissel.

Dit kan ontstellend wees maar dit is die werklikheid.

Die vraag oor die ewigheid is dus uiters relevant.

Die ewigheid is lank. Dit is presies so lank as wat die woord “ewigheid” suggereer. Sonder begin of einde, ondenkbaar, maar waar.

Waar as jy die Bybel glo en bepalend oor waar jy die ewigheid gaan deurbring.

Die boodskap van die Bybel is nie een van verwyte, teregwysing en vingerwys nie. Die boodskap van die Bybel is ʼn oop Hand wat uitnodigend na jou uitgesteek is. “Kom na My” toe lees die bekende teks, en vervolg, “en Ek sal vir julle rus gee”.

Dit gebeur egter nie outomaties nie maar moet toegeëien word.

Die Bybel sê om dit kortliks te verwoord:

“Ek staan by die deur en klop. As jy hoor en oopmaak sal ek binnekom”. – Openbaring 3:20

Die Bybel sê ook:

“Elkeen wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word” – Johannes 1:12

So kan ek vers vir vers aanhaal.

Ons sal in die ewigheid met een vraag en een vraag alleen konfronteer word: “Wat het jy met Jesus gedoen?”.

“Jesus van Nasaret gaan hier verby” klink die woorde van ʼn  bekende lied. Ook nou, daar by jou. Het jy al nagedink oor die ewigheid? Waarom nie nou nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.