ToekomsVenster: Het jy al nagedink oor die lewe?

(Foto: Milan Popovic/Unsplash)

Gedurende hierdie week wil ek graag met jou saamkuier oor die tema “het jy al”.

Dit gaan vinnig en rof hier by my, ek is seker by jou ook. Sommige dae is daar nie tyd vir dink nie, jy is op outomaties en die een aktiwiteit en verpligting word doodgewoon deur die volgende opgevolg. Wat gister nie gedoen is nie bly dikwels ongedaan omdat vandag genoeg van sy eie uitdagings het. “Human doings” in plaas van “human beings”.

Niemand kan dit bekostig om op die louere te rus nie. Die lewe is buitengewoon duur en as ʼn mens wil byhou moet jy dink, werk en beplan. Dan is daar die programme van die mense wat jou leefwêreld deel. Iewers moet dit ook ingepas word en daar moet tyd gemaak word vir kleinkinders oppas, tyd vir opvang, tyd vir bemoedig, raad gee, simpatiseer en luister.

Dit is asof die lewe aan jou klere trek, amper soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Sy moes behoorlik aan Jesus se kleed gepluk het ten einde sy aandag te trek. Onthou daar was ʼn menigte mense rondom Hom. Hier pluk die een en daar roep iemand anders.

Waar is daar dan tyd vir dink, nadink, bepeins, besoek en nabetragting?

Dit gebeur nie vanself nie. Jy maak tyd en as jy dit nie doen nie loop jy die gevaar om iewers langs die pad uit te sak en desnoods uit te brand.

Tyd vir dink oor wie jy ten diepste is en wat jy hier, op aarde maak.

Tyd vir dink oor waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is, inderdaad, of jy wel iewers heen op pad is.

Tyd vir vra wat sin gee aan jou lewe.

Tyd vir rus, eenkant kom, wonder en bewonder, tyd maak vir menswees.

Mag jy wat hierdie saak betref, selfsugtig wees.

As jy jouself dit nie gun nie, gaan niemand anders dit vir jou doen nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.