ToekomsVenster: Het jy al nagedink oor jou erflating?

voetspore-strand-golf

(Foto: Elias Domsch/Unsplash)

Ons reeks hierdie week het met die vraag “het jy al” te doen. Ons het Maandag en Dinsdag by twee kernmomente stil gestaan. Vandag is niks minder relevant en belangrik nie.

Om iets na te laat vir jou kinders, familie of selfs ʼn verdienstelike saak is nie ongewoon nie. Ouers veral wil ietsie nalaat wat voorsiening maak vir die kleinkinders se universiteitsgelde, desnoods wat ʼn motor kan koop by sy of haar 21ste verjaardag, wat ook al die geval mag wees.

Edele en eerlike voornemens.

Daar is egter nie baie wat hierdie voorneme kan gestand doen nie. Die lewe het te duur geword en die lewensverwagting van mense het toegeneem. As jy enduit vir jouself kan voorsien, is jy inderdaad gelukkig.

Daar is egter ʼn erflating wat nie materieel of finansieel is nie.

Dit is die erflating van ʼn lewe wat van integriteit getuig het. Dit beteken nie ʼn foutlose en sondelose lewe nie want, niemand van ons is daartoe in staat nie. Dit beteken wel ʼn eerlike lewe.

Eerlik met jouself, eerlik met ander en eerlik met God.

Sonder pretensie en voorgee.

ʼn Lewe wat roepingsbewus is, wat uitgevind het wat God se plan vir jou is en daarmee besig geraak het.

Spore waarin ander kan trap en volg. Spore wat nie deur die wind weggewaai word nie.

Dit is nooit te laat om met so ʼn erflating te begin nie.

Dit neem net een eerlike besluit en die manmoedigheid om te doen wat gedoen moet word en te los wat moet agterbly.

Mag die Here ons daarmee help!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.