ToekomsVenster: Het jy al nagedink oor volgende generasies?

(Foto: Joshua Earle/Unsplash)

Vandag dink ons aan komende generasies. Die lewe is soos ʼn afloswedren. Iewers moet jy oorgee, dit is onafwendbaar. In die normale wedloop probeer jy die stokkie so oorgee dat die volgende atleet met volharding kan hardloop, weliswaar in die baan waarmee jy tot by die oorgee gekom het.

Die vraag is wat gee ons oor, wat los ons vir toekomstige geslagte?

Baie van ons het in ʼn tydsgewrig grootgeword waar dinge heeltemal anders gedoen is. Ons het daaraan gewoond geraak, asook die voorregte wat daarmee saamgekom het.

Ek dink aan die teks van Deuteronomium 28 wat sê dat die geseëndes van die Here “bo en nie onder” is nie, die “kop en nie die stert” is nie.

Dana Snyman skryf in onlangs onder die opskrif “wat van ons” oor die moeilike vrae waarmee baie mense worstel.

Ons is nie tuis in gister nie, nie meer nie, maar ons kom nie tuis in vandag nie. Iewers tussenin bevind ons onsself en ons ervaar ʼn  identiteitskrisis.

Wie is ons en waartoe roep God ons? Meer nog, wat los ons vir ons kinders waarmee hulle kan werk?

Die ruïnes van ons gister lê verlate. Min besoek dit nog.

Ons het nog nie eintlik begin met die ontwerp van die nuwe nie want, ons weet nie hoe nie. Intussen stap die tyd aan.

Ons kinders en kleinkinders word in ʼn splinternuwe wêreld groot. Hulle word met nuwe paradigmas konfronteer.

Wat is standhoudend en wat is verbygaande? Hoe vorentoe?

Ek het ʼn vermoede, na aanleiding van ʼn  gesprek wat ek met Dana Snyman, dr. Braam Hanekom en Callie Roos gehad het, dat ons onsself sal moet herdefinieer. “Re-invent” is ʼn mooi, Engelse term waarmee ʼn mens kan werk.

Aangaan soos wat ons altyd aangegaan het, gaan nie meer die ding kan doen nie.

Wat los ons vir die kinders?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlinkseKoljander ·

Die volgende generasie moet maar vir hulle self sorg, ouers het nie meer geld om agter te laat nie. Dankie ANC, julle kinders sal n beter lewe he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.