ToekomsVenster: Hier vind ons vreugde

Foto: Maria Shanina/Unsplash

Toegegee, Deloris se manier van lewe beland haar in vaarwaters maar sy is onskuldig en moet vlug. Sy verval egter nie in selfbejammering nie maar toets en daag die konvensies waaroor niemand gedink het nie wel deeglik uit.

Dit is net ʼn kwessie van tyd en die eens sukkelende gemeente word een waarvan die wêreld kennis neem. Mens wil uit jou sitplek opspring en by die vreugde op die verhoog gaan aansluit. Dis hoe kerk moet wees, sê jy vir jouself waar niemand dit hoor nie.

Die beste voorbeeld van die honger dieet waarop die nonne geplaas is is die lied van Maria Robert “The life I never had”.

Deloris het bewus geword dat daar meer is en sy hunker om die konvensies uit te daag en buite die grense van ander se ondeurdagte besluite te beweeg. Sy is simbool van almal wat in die kloosterbestaan voer en na meer verlang.

Daar is ʼn lewe buite die konvensies waarmee ons grootgeraak het. Daar is ʼn ander wêreld daarbuite wat die meeste van ons nog nooit verken het nie. Daar is risiko’s wat ons nog nooit geneem het nie, problematiek wat ons nie geweet het bestaan nie en geleenthede wat nie benut is nie. Daar is lewe aan die anderkant van die veilige hawe van die vier mure van Sondag se erediens. Die Evangelie wil veel meer bereik as wat ons dit toelaat.

Jesus sê kom agter my aan en ek sal julle vissers van mense maak.

Waar vind ons Hom? By die sukkelendes, armes en verworpenes. By hulle wat genade nie verdien nie. Tussen rebelle en misdadigers, ongeletterdes en eenvoudiges. Hy waag dit op straat. Hy eet en drink saam met hulle, die tollenaars en sondaars van hierdie lewe. Hy verken die leefwêreld van mense, sluit die deur van sy luukse hemelse woning toe en gaan slaap op straat.

Dis “the life He never had but the life most people have to live”.

Hy doen dit sodat niemand sal kan sê U sal nie verstaan nie.

Die meeste mense in Suid-Afrika hunker na ekonomiese, maatskaplike en persoonlike vryheid. Hul vind dit nie in die wêreld nie en hulle vind dit ook nie in die kerk nie. Soos Deloris is hulle onwelkom in die kerk. Maar ons het die Delorisse van die wêreld nodig as die kerk gaan voortbestaan. Dis waar ons heil lê. Ons moet ons hande vuilmaak anders sal die kerk nie oorleef nie en Suid-Afrika ondergaan.

Het die kerk, die klooster iets gehad om vir Dolores te leer? Inderdaad.

Het Deloris iets om die kerk te leer? Verseker.

As die kerk voortgaan om sy deure toe te hou sal dit ondergaan. Gaan leer ken iemand wat buite jou veilige bestaansruimte sukkel om te oorleef maar te midde daarvan vryheid beleef.

Gaan kyk gerus na die vreugde by arm mense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.