ToekomsVenster: Hoe dink jy oor God?

bybel-lees

Foto: Hannah Busing/Unsplash.com

Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. – Ps. 145:8-9

Een van die groot probleme wat baie van ons worsteling onderlê is ons gebrekkige, selfs onbybelse Godsbeeld. Die vraag kom tereg: hoe dink jy oor God?

Ja, soos die twee kante van ʼn munt het God twee belangrike dimensies. Enersyds sy onvoorwaardelike liefde vir mense, ja, vir alle mense. Dan sy regverdigheid en geregtigheid.

Kom ons dink eers na oor die keersy van die munt, God se geregtigheid. Hy is heilig en dit in oortreffende trap. Daar is wat sy heiligheid betref geen gelyke of vergelyking nie. Nie die geringste sweempie van onreinheid nie. Om dus te dink dat mense sommer so in sy teenwoordigheid kan kom gegewe hul rebellie, ongeloof, opstandigheid en sondigheid is uiteraard onverantwoordelik.

Geen mens kan in die teenwoordigheid van God leef of oorleef tensy daar iets dringend en kardinaal, iets ingrypend en lewensveranderend, gebeur het nie.

Die Bybel leer ons tog dat almal gesondig het en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Paulus verduidelik verder dat die loon van die sonde die dood is. Dit is alle mense, ongeag herkoms, status, posisie, rykdom en verdienstelikheid, se konteks. Ons is op pad na ʼn ewige verderf sonder God en sonder ʼn toekoms.

Loof sy Naam dat dit net die een en verstaanbare komponent van die muntstuk is. Die ander is God se onverstaanbare maar eweneens onvoorwaardelike liefde vir dieselfde mense wat Hom so teleurstel. Sy liefde maak dat Hy mense nie sondermeer kan prysgee nie. Ons lees daarvan in Hosea: “Hoe kan ek jou prysgee, my liefde brand te sterk”.

Derhalwe het Hy besluit om ons sonde, ons opstandigheid, ons rebellie en ons ondankbaarheid op Homself te neem en die prys vir ons ongehoorsaamheid, die dood, op Homself te neem.

In die volheid van die tyd betaal Hy die volmaakte prys.

Hierdie eenmalige en voldoende offer vir die sonde van die hele wêreld word bevestig deur die opstanding uit die dood.

Hoe dink jy oor God? Om vas te haak by sy geregtigheid, wat uiteraard verstaanbaar en volledig in orde is, laat jou moedeloos en sonder ʼn toekoms. Om aan die anderkant God as ʼn sentimentele wese te beskou wat alles sondermeer aanvaar net omdat Hy liefde is, is eweneens nie korrek nie.

Nee, dit is twee kante van een muntstuk: God is liefde en God is regverdig. Die een noodsaak die ander, die een verduidelik die ander, bied uitkoms vir die ander, maak die hemelpoorte oop.

“Genade, onbeskryflik groot het U aan my bewys”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Dankie Jannie, so waar. Ons is altyd TE eenkant toe of anderkant toe

Frank ·

Jannie, ek het na aanleiding van gister se skrywe ‘n eerlike opmerking gemaak oor “gelowiges” se sonde teen die Heilige Gees (Markus 3:28-29), maar M M het dit goedgedink om te verwyder. Nugter weet hoekom want die Here is (ontstellend) reguit en ondubbelsinnig daar, of ons nou daarvan hou of nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.