ToekomsVenster: Hoe ernstig is jy?

(Foto: Leon Biss/Unsplash)

Mark. 10:47-48 – Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Blinde Bartimeus, die bedelaar wat langs die pad sit het besluit, dit is vandag of nooit. Hy verneem dat Jesus van Nasaret daarlangs verbygaan. Die skare maak dit duidelik dat Jesus se reputasie as geneesheer, leermeester en voorbeeld  Hom vooruitloop.

Dalk het iemand al vir Bartimeus van Jesus vertel. Desnoods het Bartimeus by homself gedink dat dit wonderlik sou wees as hy naby aan Jesus kan kom maar, wat is die kanse dat dit sal gebeur? Goeie goed gebeur nie geredelik met hom nie en tog, Jesus is op pad.

Hy begin hard en duidelik uitroep, “Jesus seun van Dawid, ontferm U oor my”. Deel van die Messiasverwagting wat onder die volk geleef het was dat Hy, die Messias, mense sou genees van hul siektes.

Jes. 29:18 – “Daardie dag sal die dowes kan hoor wat daar in die boek staan, en sal die blindes weer kan sien uit die donker, uit die duisternis uit”.

Hy sou boonop in die linie van die Dawidskoningshuis optree, immers, God het belowe dat daar altyd iemand op die troon van Dawid sal sit.

2 Sam 7:16 – “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Hierdie Jesus is dus die lang verwagte Messias al sou nie almal dit glo nie en die waarheid Hom uiteindelik sy lewe sou kos.

Die skare is onsimpatiek en reken dat hy net ʼn geraas maak. Derhalwe wys hulle hom tereg en se hom aan om stil te bly en tot bedaring te kom. Bartimeus laat hom nie so maklik van stryk bring nie. Hy skree al harder.

Ek wonder of ons dalk nie te maklik opgee met gebed nie?

Ons laat ons intimideer deur die stemme en oordele van ander mense. Ons leen ons ore vir die verkeerde geselskap uit. Ons verloor moed as Jesus nie dadelik reageer nie in stede daarvan dat ons al hoe harder, dringender roep.

Hoe desperaat is ons dan vir God se aanraking, vir uitkoms, dat Jesus ons spreekwoordelik sal raaksien?

Dit laat my dink aan die gelykenis van die man wat laataand by sy buurman gekom het en gevra het vir ʼn stukkie brood. Hy het onverwags gaste gekry en had niks om vir hulle voor te sit nie.

Die buurman is reeds in die bed, dit is ʼn laat uur en die deure is gesluit maar omdat hy aanhou en nie opgee met sy pleidooi nie word aan sy saak aandag gegee.

Ek bedoel nie dat ons gebedsverhoring moet verdien nie, inteendeel. Tog is gelowige gebed deurdringende gebed. Volhardend, onverdun en sonder om te twyfel.

Wil jy dalk weer daardie gebedsversoek opneem en na die Here toe bring? Jesus van Nasaret, die Seun van Dawid, kom by jou verby.

Luk 11:8 – “Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie”.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.