ToekomsVenster: Hoe groot is U

Argieffoto: Pixabay.com

Die see en alles daarin moet druis, die veld en alles daarop moet jubel – 1 Kronieke 16:32

Die dreuning van die see, die breek van golwe kan van ver af gehoor word. Dit dwing respek af. Dit is majestueus en hou nie op nie. Golf na golf breek op die sand net om met reëlmaat deur ʼn volgende opgevolg te word. Asemrowend, betowerend maar ook intimiderend.

Ek het ontsagwekkende respek vir die see. Die see is nie jou maat nie maar moet met nederigheid benader word. Oral langs die kuslyn af is daar bankies waarop plaatjies aangebring is. Baie daarvan bring hulde aan mense wat hul lewens in die see verloor het, wat verdrink het. Jy kan die see nie opdrink nie, die teenoorgestelde gebeur.

Die see herinner my aan tegelykertyd aan die grootsheid van God en van sy skepping. Die see en alles daarin moet druis en doen dit ook. Elke sekonde herinner aan die grootheid van ons God. Sy naam is bo alle ander name, daar is niemand soos Hy nie.

Hy is die alfa en omega, die begin en die einde, die oorsaak, die rede, die sin van alles. Hy is vriendelik, saggeaard en lankmoedig. Hy nooi weer en weer uit tot ʼn intieme verhouding met Hom. Die see se skoonheid herinner aan sy skoonheid. Die see se uitgestrektheid herinner aan sy omvangryke genade. Die see se dreuning herinner aan sy stem, geweldig, groot. Die onrustigheid van die see herinner aan God se onrustigheid dat hierdie aarde met Koninkryk oorweldig sal word. Die see se storms herinner aan God se toorn oor die sonde, uitgewoed aan Golgota se heuwel, maar in ʼn sin nie afgehandel nie want daar kom ʼn dag dat die boeke geopen sal word en elkeen geoordeel sal word volgens wat hy gedoen het.

Daar is tientalle tekste wat die grootsheid van die see in verband bring met die grootsheid van ons God. God is inderdaad groter as die see, Hy het ook daaraan beslag gegee en by die spreek van ʼn enkele woord het die see homself bymekaar getrek en op een plek versamel. Ek verwys uiteraard na die skeppingsverhaal.

Die Bybel sê tereg dat die ganse werklikheid God se grootsheid besing.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Amen en Amen

ameli

AMEN