ToekomsVenster: Hoe groot is U

lig-sonskyn-herfs-blare

Argieffoto (Foto: Kaique Rocha/Pexels)

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!” – Psalm 8:2

Dit sal nogal interessant wees om te hoor watter deel van ons land vir jou die mooiste is. Ek reken daar sal ʼn verskeidenheid antwoorde wees. Boonop is sommige van ons see-mense, ander voel aangespreek deur die berge, nog iemand voel tuis in die bosveld, die Karoo of in die Weskus.

Ja, Suid-Afrika is ʼn pragtige land met soveel om te bied. Ek raak gaande oor ou Oos-Transvaal en het die voorreg gehad om ʼn paar staproetes daar te onderneem. Een van my gunsteling-aandoenplekke is God’s Window. Dit is loutere skoonheid vir sover as wat die oog kan sien.

Hoe ʼn mens na die natuur kan kyk en nie bewus kan word van God nie, gaan my verstand te bowe. Dit is inderdaad asof die totale en ganse skepping ʼn mens hemelwaarts wil neig.

Ja, ek weet dat God in die harte van sy kinders woon. Ons is immers ʼn tempel van die Heilige Gees. Op sigself ʼn onverstaanbare misterie. Hoe kom God, die Almagtige, tuis in die harte van mense?

Jesus het juis gesê dat dit die essensie van die ewige lewe is, naamlik dat die Drie-enige God, Hom tuis maak in die harte van sy kinders.

In die natuur word ʼn mens op ʼn besondere wyse bewus van die Almagtige God.

In die stad mis ʼn mens die skoonheid van die nagtelike hemel. In die onlangse verlede het ons in Dullstroom se omgewing oorgebly vir ʼn naweek. Die sterreprag is onbeskryflik mooi.

Wanneer ek luister hoe die wetenskaplikes vertel van die omvang van God se skeppingshandelinge, raak ek stom. Ek begryp so min daarvan, maar wat ek weet is dat God magtig, groot en merkwaardig is.

Die Genesis-verhaal vertel hoe God met enkele woorde die ganse werklikheid tot stand gebring het. Sonder moeite het God dit wat bestaan, met sy woorde, tot stand gebring.

Psalm 8 het ʼn besondere plek in my hart. Dit is diep in my hart gebêre en ek het dit gememoriseer sodat ek dit tydig en ontydig kan oproep. Die grootsheid van God en die kleinheid van die mens, staan vir my voorop en tog, die merkwaardige plek wat Hy aan die mens gegee het.

Selfs die woorde “hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat u in die hemelruim geplaas het” laat nie reg geskied aan God se skeppingshandelinge nie. Dis mensewoorde oor God se merkwaardige handewerk.

Ek is seker dat jy ook bekend is met die lied: “O Heer my God, as ek in eerbied wonder” en dan die refrein; “dan moet ek juig, my Redder en my God, hoe groot is U, hoe groot is U”.

Miskien is ons te haastig. Die skoonheid van die skepping gaan maklik by ons verby.

ʼn Mens hoef nie in Mpumalanga te gaan rondry nie.

Stap vir ʼn enkele oomblik rond in jou tuin, as jy gelukkig is om een te hê.

Bestudeer die blare, die gras en die blomme. Let op na die al die besonderhede wat daarin opgesluit is.

Verwonder jou aan God se kreatiwiteit, en breek dan uit in ʼn lofsang.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle ·

Amen. Veral as mens na die maan die afgelope twee aande gekyk het, kan mens net in verwondering staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.