ToekomsVenster: Hoe hoor mens die Heilige Gees se stem?


Geloof

Argieffoto.

Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. – Romeine 12:2

Hoe hoor mens die Heilige Gees se stem?
Enigeen kan die Heilige Gees hoor praat. In elke mens is dié vermoë ingebou. Selfs ongelowige mense sal soms sê: Iets het vir my gesê, of, ek het ’n stemmetjie in my binneste hoor fluister, of, my “gut” het vir my gesê. Eintlik beskryf hulle maar net die vermoë wat God in ons almal ingebou het om Sy stem te kan onderskei.

Die Heilige Gees sal meestal in jou binneste fluister – nie met ’n hoorbare stem nie, maar met ’n wete. Dit is baie moeilik om te verklaar waar hierdie stem binne-in ons resoneer. Is dit in ons geestesdimensie of dalk ons sielsdimensie? Miskien is dit die maklikste om te sê dat wanneer jou gees en die Heilige Gees saamstem oor ’n saak, jy vrede sal ervaar. Wanneer daardie stemmetjie in jou binneste rus in jou gemoed bring, kan jy maar wéét jy het die Heilige Gees hoor praat! Dis as’t ware asof Hy Sy gedagtes bo-oor joune kom neersit het.

Ons gedagtes moet vernuwe word
Jy kan groei in jou vermoë om die Heilige Gees se stem te onderskei. Na die mate waarin jy gehoorsaam is wanneer Hy met jou praat, sal jy Sy stem al hoe makliker leer onderskei. ’n Mens se gewete raak ook sensitief vir ongehoorsaamheid aan Sy stem. Moenie die Heilige Gees ignoreer as Hy met jou praat nie. As jy Sy stem lank genoeg ignoreer, sal jy Hom hartseer maak en later nie meer hoor wanneer Hy met jou praat nie (Efesiërs 4:30). Laat die Heilige Gees toe om voortdurend jou gedagtes te vernuwe, sodat jy kan onderskei wat goed en reg voor God is (Romeine 12:2).

Motiewe, ambisies, vooropgestelde idees en vaste oortuigings kan dit ook moeilik maak om die Heilige Gees se stem te onderskei. Hierdie dinge kan veroorsaak dat jy hoor wat jý graag wil hoor en nie noodwendig wat Hy vir jou sê nie. Die stem in jou binneste sal altyd belyn wees met die Bybel as dit die influistering van die Heilige Gees is.

Gebed
Here, vergewe my asb. waar ek afgedwaal het. Heilige Gees, ek is jammer dat ek U werk geblus en U bedroef het. Vergewe my asb. dat ek nie na U geluister het nie. Ek wil baie graag U stem hoor. Praat asseblief met en deur my. Amen.

Praktyk
Die Heilige Gees gaan binnekort met jou praat. Doen wat Hy vra. Selfs al is dit oënskynlik vreemd, klein en onbenullig. My seun het eenkeer langs ’n motor op ’n besige pad gestop, omdat hy ervaar het dat die Heilige Gees hom gelei het om dit te doen. Eers toe hy die bestuurder vra om die venster af te draai, het hy gesien dat die man gereed was om homself om die lewe te bring. Hy kon langs hom inklim en daardie dag ’n verslae, moedelose man aan Jesus voorstel. Dis so maklik om verby te ry as mens die sagte stem van die Heilige Gees hoor. Groei in sensitiwiteit vir Sy stem. As dit die Heilige Gees is wat praat, sal jy selfs in andersins onveilige omstandighede veilig wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leon Pit ·

Hoe kosbaar is ons nie vir God nie, maar ons slaan nie altyd ag op sy stem nie. Vergewe my o Groote God.

Gert Hattingh ·

Here dankie vir vandag, dankie vir die natuur vir al die mooi van U skepping om my wat ek uit die geraas van die wereld nie meer raak sien nie omdat ek worstel met oplossings vir als wat verkeerd loop in ons land. Help my om U stem binne my te hoor en U Vrede in my gemoed te ervaar. Amen

annatjie ·

Daar is min dinge in die lewe wat so MOOI is as ñ man wat God aanbid en sy huis op die regte pad lei. Vrouens soek dit in ñ man. Dit laat haar veilig voel. Dankie my Heer vir al ons gelowige mans.

sonjak kruger ·

Baie dankie vir die daaglikse toepaslike boodskappe. Dit voel menigmaal of dit net vir my geskryf is!

Liedie ·

Hierdie is so vir my geskryf vanoggend, dit was reeds my gebed weer vanoggend. Net bevestiging weer vir my. Amen en Amen.

tinah ·

vir my ook, amen,,,,,,,,,,,,,, God weeeeeet net wat ons nodig het om aan herinner te word!

Linda van Jaarsveld ·

Die wete dat ek God se stem kan hoor in my binneste gee my hoop vir elke dag. Sonder Hom in my lewe sal ek nooit die regte pad kan vind of volg nie. Dankie my Vader!

Estelle ·

Wat vir my help is om rustig te raak en te hoor wat God wil he ek moet hoor. Om rustig te raak was n aanpassing maar Hy het vir my geleer om te stol te ksn raak en luister. Dankie Vader vir U liefde wat ek daagliks ervaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.