ToekomsVenster: Hoe kan Ek jou laat vaar?

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel?… Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. – Hosea 11:8 (AFR83)

“Jy kan probeer maar jy sal nie wegkom nie,” so het ek al dikwels vir verbondsmense gesê. “Jy dra die teken van eienaarskap. God het sy hand op jou gelê, Hy het op jou beslag gelê, jy kan dit ontken maar dit is dom en onnodig. Om jou aan Hom te onderwerp bring sin en betekenis en vrede en vervulling en sekerheid en lewe, waarom sou jy dit wou ontbeer?”

Sommige noem dit doop en ander sê hulle is ingeseën. Vir alle praktiese doeleindes verteenwoordig dit ʼn moment waarin God se bedoeling met jou lewe in ag geneem word. Daar bestaan nie iets soos toeval, noodlot of ongeluk nie. Ook nie die spreekwoordelike glipsie nie. Hier het ons met God se bedoeling te doen en kinders is ʼn erfdeel van die Here. Wie ʼn kind minag en geringskat sal met God te doen kry. Wie ʼn kind mishandel en verinneweer, sal rekenskap gee. Jy mors nie met God se handwerk nie.

Israel kon so moedswillig wees soos hulle wil wees maar hulle sal die betrokkenheid van God nie misloop nie. Hoe verder hulle van God af weggedwaal het hoe harder moes Hy praat. Hy het geen steen onaangeraak gelaat nie. Die volk het die hand van God swaar op hulle gevoel.

Hulle het dit soms interpreteer dat die Here teen hulle gedraai het. Hulle het Hom en hul eie menswees bevraagteken totdat hulle die insig gekry het dat God hulle net te lief het om hulle aan hul eie drange en versugtinge oor te gee.

Alle swaarkry is nie ʼn wekroep om terug te kom na die Here nie, inteendeel. Ons leef in ʼn gebroke werklikheid en die lewe gebeur. Kinders van die Here beleef hartseer en trauma net soos ander mense.

Dit is egter die moeite werd om vir ʼn oomblik te oorweeg of die trauma dalk die Vader se roepe na jou verteenwoordig. Soos die verlore seun se pa wag Hy om die vetgemaakte kalf, die feesklere en tulband met jou te deel. Die orkes staan gereed en die gaste is genooi.

Jy moet net opdaag. Miskien vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
  • Hierdie is die laaste ToekomsVenster-dagstukkies vir 2021. Nuwe dagstukkies sal vanaf Maandag 10 Januarie 2022 beskikbaar wees. Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.