Ek blaai onlangs vinnig deur die koerant en sien ʼn opskrif wat vertel van ʼn dogter van ʼn bekende persoon wat iewers seergekry het. Die besonderhede is nie belangrik nie maar die interessante is dat die bekende persoon se naam in die opskrif verskyn maar die dogter is, wat die opskrif betref, anoniem: sonder naam en ʼn afgeleide identiteit. Haar pa bepaal wie sy is. As sy gewoon soos die meeste van ons was en is, sou daar ook geen beriggewing oor die voorval wees nie. Sy word darem in die berig self geïdentifiseer.
Snaakse wêreld met sy verwronge waardes en idees. Bekende persoonlikheid A se seun en dogter, ouma en oupa, selfs oom en tannie is witwarm nuus. By hulself neem niemand notisie nie.
Die teenoorgestelde is egter waar wat ons geestelike lewens en gerigtheid betref. Ek is trots kind van my hemelse Vader. Ek staan graag bekend as seun van God. Uiteraard nie in die sin waarin dit van Jesus gesê word nie. Ek is seun, maar nie goddelik nie. Jesus is verweef met die drie eenheid en in elke opsig aanbiddingswaardig.
Ek het geen identiteit as dit nie in Hom is nie. Ons het ʼn “in Christus” identiteit, ons is Christene, vernoem na die lewende Christus en sy manier van dinge doen. Ons is mense van die Weg, kinders van die Vader, seuns en dogters van die Allerhoogste. My naam is vir Hom belangrik. Ek is hier om die wil van my Vader te doen. Tog roep Hy my by die naam want by Hom is ek nie naamloos, ʼn nommer, ʼn insident nie. Hy het my geken selfs voor my geboorte en my toe reeds by die naam geroep. Vir jou ook.
Ons leef in hierdie wêreld en ons name is nie onbelangrik nie. Ons name kry egter eers betekenis wanneer dit in die boek van die lewe opgeteken is. Tot dan is ons al ons wêreld se titels ten spyt, essensieel verlore en sonder ʼn toekoms.
Daar is ook sprake van ʼn nuwe naam. Die witklippie waarvan Openbaring praat het ʼn nuwe naam daarop. Dis ʼn naam waarin die karakter van God en ons menswees intens en onlosmaaklik verweef is. Hy ken my by my nuwe naam.
Soos die vader van die geloof aanvanklik as Abram bekend staan word hy Abraham. Sy lewe is met God verweef. So ook ons wat glo.
Mag die opskrifte van ons lewensreis se wel en wee lui : Jannie, seun van die Almagtige God, Vader van ons Here en Jesus en die Heilige Gees ….
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Pragtig en Amen
Ek is bly jy noem van wêreldse titels.Die meeste van die titels wat ons vandag in die kerk gebruik,is onbybels.Die enigste twee wat in die Nuwe Testament
genoem word,is die van ouderling en diaken.Daar is nie titels soos pastor,dominee,apostel,profeet,evangelis,biskop of vader nie.Jesus maak dit heeltemal duidelik aan sy dissipels:”My volgelinge is nie statusbewus nie,maar diensbewus-soos Ek.”Dis liefdevol om iemand te respekteer en te ag,maar moenie mense verhef nie.Moet ook nie toelaat dat iemand jou verhef nie.Die enigste persoon met titels in die gemeente is ons Here Jesus Christus-die dienskneg der diensknegte.