ToekomsVenster: Hoe klop jou hart?


sonsondergang-poppies

Foto: Danigeza/Pixabay.com

Lees: 1 Konings 18-19

Elia se preek aan die versamelde “gemeente” van Israel en die 450 Baäl-profete op die berg Karmel is selfs korter as die preek wat hy vroeër voor koning Agab gelewer het – hierdie keer net sestien woorde (1 Konings 18:21).

Die berg is sy preekstoel. Twee altare staan gereed, ʼn Baäl- en ʼn Yahweh-altaar, elk met ʼn slagdier. Die ooreenkoms is: Die god wat met vuur antwoord, Hy sal Israel se God wees. Elia se preek eis om ʼn keuse. ʼn Altar Call. Die Baäl-profete se handeling is teatraal en eis hulle aksie vanuit die hemele.

Elia se gebed (18:36-37) ontbloot die passie van sy hart: “Antwoord, Here, antwoord tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Vers 38 vertel kleurryk dog baie kort hóé en dát die Here God antwoord en vers 39 die impak daarvan.

Iets om oor na te dink

Ten spyte van hierdie dawerende oorwinning vlug Elia steeds een dagreis ver die wildernis in; bang – en heel tereg ook – vir Isebel en skrop hy nes onder ʼn besembos. Besonders is die engel wat opdaag en hom verkwik: “… anders sal die pad vir jou te lank word.” Elia pak ʼn veertig-dag-reis aan na die Berg van die Here, Horeb, waar hy in ʼn grot ingaan.

Maar ook hierdie verlate plek se GPS-koördinate is nie vir die Here onbekend nie, ook hier daag die Here op en twee keer vra die Here aan Elia: “Wat maak jy hier?” Sy antwoord is treffend.  Elia dien die Here met ywer … en het selfs ʼn ywer oor sy ywer vir die Here! Praat van oortreffende trap! Praat van toewyding!

Hoe lyk jou passie vir die Naam en “altaar” van die Here (Yahweh)? Dink aan ʼn keer of kere in jou lewe waar jy die geleentheid gehad het om vir die Naam van die Here op te staan, ʼn geleentheid waar jou ywer vir die Here duidelik na vore kon kom. Deel hierdie verhaal of getuienis met iemand.

Gebed

Here, ek wil soos Paulus (Romeine 1:16) my bors uitstoot om U as my Here te ken. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lena Jonk ·

Ja hoe min staan ons as sondaars nie vir ons Heer op nie. Daar is een ding wat my soos n dolk in die hart steek as mense ons Meester se naam so ydelik amper in elke sin, asook in kinderstories gebruik nie, omtrent al die Engelse kinderstories oor TV word Sy naam gebruik.

Mads ·

Ja Lena dis veraglik om dit te hoor dat die Here se naam gebruik word vir al die verkeerde redes. Sy naam is Heilig en word tog so baie misbruik. Jammer God vir al die mense wat u naam so ydelik gebruik sonder skaamte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.