ToekomsVenster: Hoe lees ek die Bybel?


all-free-download.com

all-free-download.com

Lukas 10:25-37 Die barmhartige Samaritaan

Hoe lees ek die Bybel en hoe verstaan ek die teks wat ek lees?

Die Bybel is nie ’n wetenskap- of geskiedenishandboek nie. Die Bybel is verhale van God wat saam met mense ’n pad loop. Dit is stories wat vertel word in bepaalde tye of kontekste in die geskiedenis van die wêreld, waarin ek en jy God kan leer ken en lewenslesse kan leer wat ons weer op ons pad help.

Ek wil net kortliks twee maniere onderskei van hoe jy die Bybel kan lees: (Daar is natuurlik ander maniere ook)

Ons gebruik die geskiedenis om ons te help om die boodskap van die Bybel oop te breek. Kom ons noem dit die historiese kritiese benadering. In hierdie benadering verstaan ons dat Psalms en Spreuke twee verskillende boeke is; die een gedigte en die ander wysheidsliteratuur. Hooglied en Eksodus se twee verhale is verskillend. Die een vertel van die liefde, die ander van ’n volk wat deur God bymekaar geroep is om vir hom ’n verbondsvolk te wees.

Die ander manier is die meer letterlike lees van die teks. Dit wat ek lees, vertaal ek dan vandag letterlik in my konteks in. Die teks sê dat ek drie maal moet bid; dan moet ek dit doen. Die probleem hiermee is natuurlik dat ons nie alles meer letterlik kan opneem nie. Ons stenig tog nie meer mense wat sonde gedoen het nie en mense wat geskei is, trou weer. Dan praat ons ook nie van offers en die land wat elke sewende jaar moet rus nie. Om hierdie rede gaan ons nie dié metode gebruik nie.

Met ons metode van histories kultureel wil ons as gelowiges die Bybel gebruik om ons lewens te rig (etiese riglyne uit die Bybel gebruik vir ons daaglikse lewe). Ons wil alle tekste met dieselfde bril lees en nie net ons lieflingtekste nie. Die moeilike tekste, of dit wat ons dink nie van toepassing is nie, mag ons nie net uitlos of vermy nie.

Kom ons gebruik die verhaal wat ons gelees het as ’n voorbeeld. In die tyd wat die gedeelte geskryf is, was die roete waaroor geskryf word deur berge ’n gevaarlike roete. Op hierdie roete was daar rowers wat mense voorgelê het, jou aangeval en beroof het. Die persoon wat eerste daar aankom sou dan die slagoffer help tot by ’n herberg. Hy sou dalk die beseerde gedra of op sy donkie laat ry het. In die sestigs en sewentigs in Suid-Afrika het ons die teks letterlik verstaan; jy stop jou motor en help die persoon wat langs die pad gestrand is. Later (in die negentigerjare) het die gesprek begin skuif na ’n geestelike verstaan; wie is jou naaste? Is dit mense wat jou pad kruis ongeag van taal en velkleur, of is dit mense wat Afrikaans en wit is? Vandag sê ons dat jy nie die teks letterlik kan opneem nie, want die teks is bedoel om jou te leer oor hoe jy oor nood en seerkry dink. Jou optrede gaan deur die situasie bepaal word.

Gebed:

Here ons besef vandag weer die wonder van die Bybel. Ons lees die wonderlike stories van mense wat geworstel het met die lewe, soos wat ons vandag ook doen. Ons weet die Bybel is lank terug geskryf, maar tog weet ons dat die boodskap ook vandag vir ons bedoel is. Amen

Leefwyse:

Vat die Bybel en begin self die Bybelboeke indeel: watter boeke dink jy is stories van mense en watter gaan oor die volk Israel? Watter is gedigte en wyshede en watter vertel van visioene en drome?

Iets om vandag oor na te dink:

As geroepene lees ek die Bybel. Met watter een van die twee metodes is jy die gemaklikste?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

vermeende ·

Stories???
Is ons geloof nou al op stories gebaseer?
Stories is fiksie!
Is die hemel en die hel dan versinsels wat nie bestaan nie en die wette en geboie net ruglyn reels?
Dankie tog ek is nie in jou kerk nie.
Jy is n klsieke bewys dat boekgeleerdheid jou nie weis maak nie anders as met Salemo!

Stories, jou ou storie verteller.

SkarrelKind ·

Vermeende – net omdat jy nie saamstem nie, beteken nie jy mag neerhalend wees teenoor mense wat met jou verskil nie.

Die Tien Gebooie is ‘n redelik swak morele kompas, net so terloops. Jou os, esel en vrou word almal as besittings gesien en so daarna verwys – verkragting word nie eers genoem nie. Klou jy maar daaraan vas, ek het aan beweeg.

En en glo elkeen moet ‘n opinie hê – soos die skrywer hierbo. Nie waar nie??

Dawie ·

Ongelukkig lees mense die Bybel soos hulle dit graag wil verstaan en kan maar enigiets daaruit probeer regverdig. Daarom het ons omtrent 40 000 verskillende Christelike gelowe/vertakkings in die wêreld. Een ding waarmee ek met die skrywer saamstem is dat dit verhale is ons kan dit nie letterlik opneem nie.
@Skarrelkind – goed gestel.

Karin van Staden ·

Ek het gekyk waar hulle van Nou praat jy.

Die eerste plek Jesus is nie ‘n geloof nie nie, Hy is my Pa en Hy het vir my Sy gees gegee om vir my te help met besluite en vir my leer. Met anderwoorde , ek het ‘n verhouding met Hom. Julle praat van rassime, seksisme ens. My gedagte om dit is, as dit Gees van God in jou en om jou is en jy regte verhouding met jou Pa sal jy gemaklik wees in jouself as mens as die ding doen of praat. Hoe sien Hy jou en wat hoor Hy. Die Here se soek eer die koningkryk van God en leer Sy liefde vir jou en bou ‘n verhouding met God dan sal al die ander dinge duideliker word. Mense val so baie omdat hulle na mense kyk en hulle fokus van Vader God afhaal. Almal is in ‘n leerskool. Ek maak foute en God help my reg dit is hoekom ek ‘n verhouding met Hom het en dit is hoekom Hy my Vader is om my te leer om eendag by Hom te kan wees. Mense maak alle so moeilik. Dit is hoekom Hy se glo soos ‘n kind, want Hy het geweet wat ons mensdom sal aanvang. Prys die Here. amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.